Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Afsterf van absolute kennis laat jou weerloos, maar opgewonde

God, Ek is ook hier!

Deur Hendrik Venter
Uitgegee deur: Griffel Uitgewers
Prys: R180.00
Resensent: Jan van der Merwe

In Barend J Toerien se gedig “Tant Miem by die biduur” vra tant Miem vir die ouderling: “Oor wie sal ons ons vandag bekommer. Wie met karwats tot bekering bring? Of bid ons sommer?”

Net soos tant Miem, het daar die afgelope twee dekades ’n obsessiewe bemoeienis by Afrikaners ontstaan jeens hulle kerk en godsdiens. Afrikaners het onbeskaamd die kerk se standpunte begin bevraagteken en in sommige gevalle selfs verwerp.

In dr Van Zyl Slabbert se boek Afrikaner Afrikaan skryf hy: “Dit verwonder my altyd hoe maklik die predikers oor God en sy gedagtes kan gesels; elkeen vas oortuig dat hy of sy weet hoe alles inmekaar steek. Sodra ek oor hierdie dinge begin dink, raak ek verstrengel in basiese ontologiese probleme wat my denke oor so baie onderwerpe raak. Byvoorbeeld: Die idee van God veronderstel bewussyn, bewustheid, wil, plan. Daar word vryelik gepraat van God se liefde, genade, toorn, ensovoorts, maar nêrens van God se kop of brein nie. En net daar begin my dilemma.”

Hendrik Venter se boek God, Ek is ook hier! is in wese ’n narratief van iemand wat, net soos dr Van Zyl Slabbert, oor sekere godsdienstige dilemmas begin wonder. So skryf hy: “Die Ou Vertaling van die Bybel in Afrikaans (1933) gebruik die woord ‘siel’ meer as 390 keer en die Nuwe Vertaling (1983) minder as 40 keer! Elke nuwe vertaling van die Bybel word sekerlik gedoen om die boodskap daarvan in die taal en idioom van die dag by die leser uit te bring. Was dit die vertalers wat ‘lewe’ gelykgestel het aan ‘siel’, of was dit ons, die leser? Ons woordeboek sê ‘gees’ en ‘siel’ en ‘lewe’ is een en dieselfde ding. Is dit?”

Venter vra vrae, soek antwoorde, bespiegel en pen deurlopend sy eie belewenisse neer ten opsigte van sy Godservarings. Hy laat by die leser die idee van ’n Jean-Francois Lyotard wat in The postmodern condition: A report on knowledge geskryf het: “When we examine the current status of knowledge the question of legitimation comes to the fore. It appears in its most complete form, that of reversion, revealing that knowledge and power are simply two sides of the same coin; who decides what knowledge is, and who knows what needs to be decided?”

Venter se boek is hoogs stimulerende leesstof vir enige persoon met godsdienstige vrae binne sy of haar gemoed. Sy skryfstyl is gemaklik, hoewel sy teksverwysings vreemd en tegnies ingewikkeld is. ’n Ander punt van kritiek is die totale omvang van die vrae in sy boek. Hy vra meer as 1 500 vrae en in ’n stadium raak hierdie vrae net te oorweldigend vir die leser. Venter se boek is beslis nie ’n boek wat jy net een keer gaan lees en klaar lees nie, dit is ’n boek wat ongetwyfeld geskryf is vir weerlees en herlees. Met die herlees besef ’n mens eers die totale omvang van Venter se godsdienstige kennis, insig en Goddelike ervaring.

God, Ek is ook hier! val nie in die genre van tradisionele godsdienstige literatuur nie, daarvoor is Venter te vrydenkend. Dit is egter ’n boek wat enige predikant behoort te lees, as hy of sy regtig wil weet wat in die kop en gemoedere van lidmate aangaan. Na die lees van hierdie kritiese narratief het ek soos Jacques Derrida gevoel. Hy het in sy artikel “Wat bly oor van absolute kennis?” opgemerk dat hy die doodsklokke van die afsterwe van absolute kennis hoor lui en dat dit hom ietwat weerloos maar tog opgewonde laat.

God, Ek is ook hier! kan in boekwinkels bestel word, of op die internet by www.griffel.co.za of telefonies by On The Dot 0861 668 368.

I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.