Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Nie-fiksie pak Da Vinci Code-raaisel

Discovering the Keystone: Solving the Riddle of the Red Serpent After 40 Years deur Guillaume Brouillard.

Uitgegee deur: Griffel Media

Prys: R220.00

Resensent: Evert Buurman

Hierdie boek handel oor ’n eietydse enigma. Dit is reeds uit die titel duidelik met woorde soos “Keystone”, “Riddle” en “Red Serpent “. Op die voorblad is daar verder ook ’n voorstelling van die tempelskatte van Jerusalem, soos uitgebeeld in ’n skildery van die Franse skilder Eugène Delacroix. Regonder dié uitbeelding staan geskryf: “Temple Treasures Delacroix 1861”. Al hierdie dinge staan in verband met ’n Franse gedig, naamlik “Die Rooi Slang” (Le Serpent Rouge), geskryf in die vorm van ’n raaisel. Dit is blykbaar deur Jean Cocteau, bekende Franse digter, skilder en vermeende Groot Meester van die geheime orde “Prieuré de Sion” saamgestel.

Dit blyk dat die raaisel in die gedig op die wegsteekplek van die sogenaamde hoeksteen of sluitsteen betrekking het, wat weer met die tempelskatte in verband staan. Hierdie skatte is met die plundering van Jerusalem in 70 nC deur die Romeine na Rome weggevoer, waar die Wesgote dit op hulle beurt gebuit en na hulle hoofsetel in die suide van Frankryk geneem het. Die Lanquedoc, ’n area in die suide van Frankryk, staan dan ook aan die hart van die raaisel.

Lesers van Dan Brown se Da Vinci Code sal opmerk dat baie van hierdie dinge ook in daardie boek ter sprake kom, naamlik die genoemde gedig, ’n raaisel, ’n sluitsteen en die Prieuré de Sion. Discovering the keystone handel oor presies dieselfde enigma. Die verskil is egter dat dit nie-fiksie is.

Dit is eerder ’n poging om ’n werklike raaisel in verband met daardie geheime groep te ontsluit. Dit gee ook ’n totaal ander perspektief op die sentrale motief van die Da Vinci Code, naamlik die beweerde huwelik van Jesus en Maria Magdalena. Die skrywer wys daarop dat die digter hierdie huwelik nie as ’n historiese gebeurtenis beskou nie, maar eerder as ’n latere ontwikkeling van ’n baie ou mitologiese tema. Dit is dus ’n fout om die motief letterlik te neem, soos Dan Brown in die Da Vinci Code doen.

Christene wat in kontemporêre gebeure belangstel, behoort die boek te geniet. Dit is gemaklik geskryf, hoewel die leser wat die eerste maal met die tema te doen kry, dalk ietwat deur die baie nuwe feite oorweldig sal voel. Die boek is in glans gedruk en bevat heelwat kleurfoto’s, wat dit geskik maak vir enige koffietafel.

I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.