Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Ligloop in Van Deventer se bos


BYL IN MY BOS
DEUR:
HENNIE VAN DEVENTER
UITGEWER: GRIFFEL MEDIA 
BLADSYE: 213
PRYS: R165

RESENSENT: FRITS GAUM
 
Hennie van Deventer is ’n deurwinterde koe­rantman wat diep spore in die Vrystaatse en Suid-Afrikaanse koerantwêreld getrap het, en op die hoogtepunt van sy loopbaan as uitvoerende hoof van Naspers se koerante (te vroeg?) afgetree het. In 14 boeiende boe­ke skryf hy dikwels oor persone en persoonlikhede wat sy koerantpad gekruis het.

In hierdie boek vertel hy met ’n vonkel in die oog oor bekendes, minder bekendes en onbekendes met wie hy te doen gekry het en vir wie die Boskapper se byl reeds almal bygekom het. Soms is dit net ’n klein kamee, ander kere ’n langer en vollediger vertelling oor ’n persoon vir wie Van Deventer goed geken het. Soms is dit met groot bewondering (Wynand Mouton), soms minder so (Andries Treurnicht). Soms is dit dalk ’n bietjie skerp (Marike de Klerk), soms met egte waardering (Tini Vorster). Soms is dit met naby-kennis (Tienie Zeeman), soms ’n bietjie meer op ’n afstand (Johan Heyns).

Van Deventer het op 39 redakteur van Die Volksblad geword in ’n tyd toe Naspers goed gedink het voordat hy sy redakteurskappe aan jong Turke gegee het. Hy was voorheen 11 jaar lank lid van dié koerant se redaksie, en op die ou end 12 jaar lank redakteur. Hy het in daardie tyd deel geword van die Vrystaatse kultuur en het die Vrystaters van binne-uit leer ken. En dit in die moeilike jare toe Afrikaners meestal nie langs dieselfde vuur gesit het nie. Baie van die vertellings gaan oor die woelinge van daardie dae – van vriendskappe (met byvoorbeeld PW Botha, oorspronklik ’n Vrystater) en jagtogte (met byvoorbeeld PW Botha) en botsings (met byvoorbeeld PW Botha). Van Deventer was ’n “verligte” redakteur toe verligtheid partykeer in die Vrystaat skeef aangekyk is, maar hy en sy koerant was tog wyd gewaardeer. En hy was as die redakteur van ’n belangrike meningvormende koerant welkom in geselskappe wat nie vir almal beskore is nie.

Dit is goed om hier ook te boekstaaf dat Hennie van Deventer, kerkman wat hy is, later as Naspers se uitvoerende hoof van koerante ’n belangrike rol gespeel het dat Algemene Kerkbode ’n paar jaar lank gereeld as bylae in al die Afrikaanse dagblaaie ingevoeg is.

Van Deventer raak ’n bietjie melankolies as hy besef dat die byl al hier en daar naby aan hom geflits het: “’n Gevoel van verlies pak jou beet; spyt oor verhoudings wat afgekap is; belowende vriendskappe wat onvoldoende ontwikkel is ... Verwyte knaag oor ’n versoenende woord wat nie betyds gespreek is nie, of ’n verskoning wat agterweë gebly het. Intussen bly die Byl onstuitbaar kap ... en kap ... en kap.” Maar humor ontbreek ook nie: “Te veel droefgeestigheid sou so ’n wandeling op ou bospaadjies darem dodelik vervelig gemaak het, nie waar nie?”

Dit is ’n mooi boek, soms ’n roerende boek, wat groot en klein mense weer ’n oomblik lank lewensgroot voor jou laat staan voordat hulle die vergetelheid instap.  

- Dr Frits Gaum is voormalige redakteur van Kerkbode.

I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.