Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Daar kom weer 'n spesiae trein

Deur Anton Pienaar

Ek onthou die dag toe oud-president CR Swart ons dorp besoek het. Die perron op Ventersdorp se stasie het gekrioel van ons. ’n Malende klomp laerskoolkindertjies, blink van skoen, uitgedos, en elkeen met ’n landsvlaggie in die land. Ons moes dit so neushoogte hou. “Kyk op kinders, wees trots.”
Hy het met ’n spesiale trein gekom. Die opgewondenheid in my het gedreig om uitbundig te word. Maar ons was mooi afgerig, geleer om ons te gedra. ’n President, ’n godsman, was op pad.

Dit was een van dié gebeurtenisse wat my lewensbeskouing gevorm het. Ek is ’n bestemde Christen en ’n Afrikaner. Soos baie ander het ek hartstogtelik lief geword vir my identiteit. In daardie jare het ek van niks gehou as dit nie Christelik of Afrikaans was nie. Die res van die wêreld was ’n klomp verneukers soos my oupa gesê het. Die Engelse het gedink hulle is beter as ons. Die Amerikaners was almal hippies. Die Franse sedeloos. Die kommuniste het, grommend, soos ’n onstuitbare beer, deur die bosse van Afrika en die Beatles aangekom. Dit was nie nodig om ’n rassis te wees nie. Die swartes het mos hulle plek geken.

Ek verstaan hoekom ek so gevorm is. Ek is nie kwaad daaroor nie. Ek het so ’n rukkie “geboetman”, toe was dit oor. Vandag is ek nie meer so nie. Langs die pad het die transformasie gekom. Geleidelik. Die manier hoe Jesus met mense gewerk het, het my verander. Ek het besef dat God se liefde alles deurpriem. Sy liefde is nie net vir my boksie gefilter nie. My neushoogte het gesak.

Die Wind wat my herbaar het, het my ruimer gemaak. ’n Ruimer Christen en ruimer Afrikaner. Hartstogtelik oortuig van die liefde van die evangelie. Dit het my vry en bly gemaak. Die Franse filosoof, Andre Comte-Sponville, sê dit soos dit is: “If one considers love in its essence - if we take it for what it is - there is no unhappy love.” Vooroordeel is deur die Wind weggeneem. Ek is deel van die mensdom in wie Hy ’n welbehae het.

En meer Afrikaans en Afrikaner as ooit. Is daar ’n mooier taal as dit wat Opperman en Cussons en Brink in kunswerk verander het? Wat is lekkerder as om saam met ander Afrikanerganse te wees, vleis te braai, te korswil en te filosofeer? Steeds verknog aan my identiteit. Maar die Afrikanerpatriotisme word nie meer herken aan ’n selfvoldane neushoogte nie. Die verneukers het my mede-begenadigdes geword. Ons deel asems. Ons deel die goedheid en die Liefde. Ons gun mekaar die lewe.

Eersdaags kom daar weer ’n spesiale trein. Gautengers is amper weer uitbundig opgewonde. Die trein gaan baie mense se lewe aanraak. Maar hy bring nie weer net een spesiale mens nie. Daar gaan baie spesiale mense op hom wees. Verneukers ook. ’n Malende klomp mense. Hierdie keer gaan ek nie uit die hoogte aan hulle dink nie. Ek gaan dink aan hoe God my getemper het. Ek gaan dankie sê dat ek Hom in elke mens kan sien.

 
Kommentaar
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.