Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Dit is andbougrond wat ons toekoms gaan bepaal

Aan wie behoort Suid-Afrika se plaasgrond? Dié grond wat die afgelope 100 jaar en meer uiters suksesvol deur hoofsaaklik wit boere bewerk is.

Dit is onlogies om te dink dat die nuwe regime, ’n demokrasie onder swart bestuur, die huidige situasie sal aanvaar dat die meeste landbougrond steeds aan wit mense behoort. Die besit van grond versimboliseer mag, die voorreg om jou eie kos te verbou, en helaas, onafhanklikheid en vryheid.

In die vroeë Bybelgeskiedenis was grond eintlik God se eiendom. Dit word mooi uitgespel in Levitikus 25. Daarom kon grond nooit permanent verkoop word nie. Dit het dan ook ’n reël geword, indien iemand deur armoede sy grond verloor, moes dit deur tyd en prosesse weer aan hom terugbesorg word. Dit is die hart van God se geregtigheid. Die Israeliete het duidelik opdrag gekry dat hulle mekaar nie oor grondsake mag uitbuit nie. En elke vyftig jaar moes grond aan die oorspronklike eienaar terug gegee word. Grond is regverdig verdeel deur die eienaar, God.

Ek is oortuig dat diep in die psige van swart mense dié ou oortuiging lê. My grond kom uit die ou verlede my toe. Al maak ek niks daarmee nie. Nou is die oomblik van geregtigheid. God se geregtigheid. Simbolies, die vyftigste jaar.
Dit maak die grondsaak in ons land ’n dubbele duwweltjie. Wit landbouers se bloed en sweet sit ook in die Suid-Afrikaanse grond. En ook hulle het die oortuiging dat God hulle na Suider-Afrika gelei het, en aan hulle vryheid en grond gegee het.

Maar die kinkel het nog ’n dieper buig. Om landbougrond, wat die volke se voedselmandjie is, aan mense te gee wat dit nie regkry om die produkte te lewer nie, is eenvoudig dwaas. Die meeste plase wat die staat sedert 1994 vir swart boere gekoop het, het onproduktiewe stukke grond geword.

Watter wysheid en planne het die regering? Ten spyte van die dorings, lyk dit of die proses om soveel as moontlik grond aan swart mense te gee, net sterker voortstu. Voedselsekuriteit is vir politieke leiers skynbaar nie ’n probleem nie, en die emosionele band wat wit boere met hulle grond het, word net geïgnoreer.

Het die regering al genoeg aandag gegee aan vennootskapboerderye? Of ’n werkbare mentorskapprogram? Daar is baie boere wat graag wil help dat swart boere uiteindelik suksesvol as medeboere gevestig word. Indien die regering hierdie boere identifiseer en deelmaak van ’n program, kan dit nog ’n impetus vir die nasiebou program wees.

Is daar in die regering leierskap en ’n wil om Suid-Afrika se reënboognasies nader aan mekaar te bring? Die bestuur van Suid-Afrika se landbougrond gaan ’n groot invloed op ons almal se toekoms hê.

 
Kommentaar
Landbougrond
2010/07/04
Die kwessie van Landbougrond wat Anton aanspreek is beslis 'n diep sensitiewe onderwerp. Ons weet dat baie emosie, in die saak, baie diep ingebed is.Om dit egter net vanuit die emosie te wil besleg, gaan net spanning bring, want die realteit van ekonomiese impak op SA is 'n saak wat dat deur alle politieke leiers so hanteer moet word, dat insig en begrip ontwikkel kan word deur alle partye.Daar is die populiste wie se uitsprake juis die emosie negatief aanjaag en 'n mens bid juis hulle tot hul sinne sal kom.Die nood om die stemme van rede tot die debat te laat toetree, vra juis in die tyd volwasse politieke leierskap. Nou is die tyd dat ons sonder ophou dit van God moet afpleit in gebed. - Sam Pienaar
 
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.