Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Van Zyl Slabbert – 'n man so na God se hart

Ek het hom die eerste keer in Pretoria Boys High se saal hoor praat. Dit was in die laat sewentigs. Hy het aan die gepakte saal die voordele van ’n federale politieke stelsel vir Suid-Afrika verduidelik. Hy was helder in sy argumente. Met priemende erns het hy by sy onderwerp gehou. Nie een keer het hy dit nodig gevind om neerhalend of verkleinerend na ander politici te verwys nie.

Dit was ’n aand waarin my lewe verander het. Ek was ’n jong student, polities onkundig en naïef.  Terugskouend was dit ’n grootword-oomblik. En ek dink ook so vir baie ander wat saam met my nog vrydenkend was. Hy het my daardie aand bewus gemaak van die kompleksiteite van ons land. Van toe af sou ek na alles luister en kyk wat Van Zyl Slabbert sê en doen. 

Bietjie meer as ’n jaar gelede kry ek die voorreg om ’n halfuur of wat saam met die formidabele mens tee te drink. Ek is so bly dat ek vir hom kon sê hoe transformerend sy woorde dié aand op my lewe ingewerk het. En toe, nodeloos, begin ons praat oor kerk.

Hy het my vertel dat hy entoesiasties as teologie-student aan sendingaksies in die Stellenbosch omgewing deelgeneem het. Selfs georganiseer het. Maar dat sy teologiese pad eensklaps tot ’n einde gekom het nadat hy aan ’n destydse teologie-proffie gevra het wat word van mense wat nog nooit van Christus gehoor het nie. “Daar het ek met die eksklusiwiteit van die kerk te doen gekry en ek het geweet dit is iets waarmee ek myself glad nie kan versoen nie.”

Ek weet nie of Van Zyl ’n ongelowige geword het nie? Ek wou hom dit nie vra nie. Ek wou hom nie eens vra of hy darem nog iets dink van die kerk, en of hy dalk nog êrens ’n kerklike verbintenis het nie. Ek was bang vir die antwoord.

In sy akademiese en politieke loopbaan het hy die boodskap van die Bybel in politieke taal vertaal. Die ongeregtigheid waaroor die profete en Jesus dikwels gepraat het, het hy in die parlement begin verkondig.  Aan mense moes die reg gegee word wat God aan hulle gun. Ons mag nie ’n politieke stelsel bedryf wat mense se goddelike reg tot vryheid en gelykheid ontken nie.

Waar my oë en ore Van Zyl gevolg het, het dit nooit oor homself gegaan nie. Hoewel hy nie die Bybel in die hand gehad het nie, was sy praat pure Bybel.
Vir my was Van Zyl Slabbert, in die taal van my geloof, ’n man so na God se hart.

 
Kommentaar
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.