Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Samelewing het weerlose oop kerk nodig

Ek is ook een van die ouens wat op die kerm-wa klim wanneer ek hoor van korrupsie en nepotisme. Byna soos die plae in Egipte van ouds, word ons daarmee geteister. Waar ’n mens ook al kuier, hoor jy van een of ander gekonkel. êrens is iemand weer onregmatig bevoordeel en iemand anders benadeel. En alles gebeur agter dig toegetrekte gordyne.

“Waar is die deursigtigheid?” roep ons in argwaan. “Julle werk met ons belastinggeld en in die donker dief julle daarmee!” Ondeursigtigheid en onderduimsheid is dikwels bedmaats.

Die kerk word ook soms van ondeursigtigheid beskuldig. Soms is die beskuldigings nie geldig nie, maar dikwels het dit meriete.

Die skade van om agter die gordyn te handel, is iets wat die doeners nie altyd mooi bereken nie. Hulle dink hulle doen reg en glo dit is tot almal se beswil. En soms is dit! Maar ondeursigtigheid skep persepsies wat die beste bedoelings en planne kan kelder.

Een goeie voorbeeld was in die verlede toe die Afrikanerbond (AB) nog ’n geheime organisasie was, en talle predikante en lidmate aan die organisasie behoort het. Die AB het waarskynlik wonderlike werk gedoen, maar terugskouend het die geheimhouding meer skade veroorsaak as wat die organisasie ooit sou kon voorsien.

Daarom is ek ’n voorstander vir openheid. Deursigtigheid. Doen en praat eerlik in die ope. Al maak jy soms foute. Dit is veral belangrik vir ’n kerk wat ’n openbare instansie is, en wat aan al sy lidmate behoort. Vergaderings, agendas en notules moet oop wees. So ook motiewe en standpunte. Almal moet weet wat hulle aan jou het. Lidmate sowel as buitestanders.

Hulle moet weet waarmee jy besig is. Jy moet hulle die geleentheid gee om jou te vertrou. Geleentheid om jou te kan steun en om, waar nodig, jou op oordeelsfoute te wys. Dit is juis die weerlose openheid van die kerk wat hom sy integriteit gee.

Natuurlik is daar soms sensitiewe kwessies waar mense se waardigheid op die spel is en waar dit liefdevol is om eerder stil te bly. Sulke situasies het niks met die deursigtigheid te doen waarvoor ek pleit nie.

’n Deursigtige, eerlike kerk of gemeente sal ervaar dat sy lidmate met groter vrymoedigheid naderstaan. Hulle sal hom vertrou en met groter vrymoedigheid aan sy projekte deelneem. Gemeentelede wat goed ingelig is, sal hulle kerk en gemeente liefhê vir wie hy is.

’n Kerk wat geloofwaardig deursigtig is, kan vir ’n gordynsamelewing dalk net die nodige inspirasie word. Iemand wat deursigtig lewe, wat niks het om weg te steek nie, dwing altyd respek af.

 
Kommentaar
Deursigtigheid
2010/04/17
Die enkele grootste rede waarom daar geen vordering gemaak word in die proses van, en onderhandelinge vir eenwording tussen lede van die NG Kerk- "familie" nie, is juis die gebrek aan deursigtigheid van die onderhandelingsproses en agenda. Lidmate is skepties omdat hulle nie ingelig is nie. Hoe kan hulle 'n saak steun waarvan hulle geen kennis dra nie? Die landwye opname onder NG kerk-lidmate het hierdie beswaar duidelik uitgewys maar nogtans volstaan die voormanne in die kerk daarmee om lidmate nie op die hoogte te hou oor wat in die onderhandelingsproses aan die gang is nie. Die vraag is waarom? Is daar dan "geheime onderhandelings"? Soos gesê "'n deursigtige, eerlike kerk of gemeente sal ervaar dat sy lidmate met groter vrymoedigheid naderstaan". - Pieter Hurter
 
AB
2010/05/05
Indien jy dink dat die AB nou in die ope is, is jy baie kortsigtig. Dink jy vir een oomblik dat die hoëkoppe in die AB afstand gedoen het van hulle konnektasie met die vrymesselaars? Onthou eending, die AB is kamtig nou oop, die BB is nou nog meer geslote as voorheen. - Johan
 
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.