Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Maak die gesprek oor kerkhereniging oop

Die gesprek tussen die NG Kerk en die VG Kerk was nog nie in ’n donkerder doodloopstraat as nou nie. Ek was nog nooit by enige amptelike gesprekke oor kerkhereniging betrokke nie. Maar ’n mens kan dié afleiding maak as jy gehoor het wat prof Piet Strauss (moderator) en dr Kobus Gerber (algemene sekretaris) onlangs aan die vergadering van die moderamen daaroor gesê het.
My voorspelling is dat dit in die donker gaan bly, of op ’n reuse krisis afstuur, tensy die verdere gesprek in die ope gehou word. Die styl van klandestiene onderhandelinge oor sensitiewe sake, maak dié wat buite staan skepties en ongeërg. My vermoede is dat die massas NG lidmate wat op kerkhereniging die rug gedraai het, dit gedoen het omdat hulle geslote gesprekke nie vertrou nie.
Waarom kan almal nie weet wat die dorings in die VG Kerk se voet is nie? En wat is die duwweltjies wat die NG Kerk pla? As almal weet wat dit is, en daaroor praat, mag dit net verteerbaar word, en mag daar nuwe moontlikhede ontstaan.

Wat hou die kerke uitmekaar? My raaiskoot is dat die VG Kerk die NG Kerk daarvan verdink dat hy steeds rassisties is. Dat hy neersien op die VG Kerk. Dat hy ongehoorsaam is aan die Bybel en nie die geskiedenis wil regstel nie. Dat die NG Kerk nie eens wil luister as die VG Kerk die Belydenis van Belhar nader bring en sê dit is hoe hulle die Bybel oor kerkhereniging verstaan nie. Die NG Kerk is ryk en is bang dat hy na hereniging moet deel.

Die NG Kerk-leiers se dilemma is dat hulle die aanspraak op hereniging verstaan. Maar wanneer die VG Kerk gevra word om begrip te hê vir die pragmatiese probleme wat lidmate van die NG Kerk met kerkhereniging het, is daar geen tegemoetkoming nie. Lidmate vra wat is die werklike motief vir strukturele kerkeenheid. Wat van die taal van vergaderings en teologiese opleiding? Taal is vir Afrikaanse mense baie belangrik, want taal is wesenlik deel van wie hulle is. Wat van die teologiese verskille? Is daar agter die obsessie oor kerkhereniging ’n verskuilde motief by lede van die VG Kerk wat hulle hande op die eiendomme of pensioenfondse van die NG Kerk wil lê?

Ek het dalk nou slegte en verkeerde afleidings en stellings gemaak. As iemand kwaad is, jammer. Maar dit is waarskynlik hoekom baie min mense erg het aan die herenigingsproses. Want ons weet nie. Daarom die versoek. Kom uit die donkerte. Maak die mense wat saak maak, deel van die gesprek.

 
Kommentaar
Kerkeenheid
2010/03/06
Die probleem is dat die VGK die baas wil wees deur vir die NG KERK te wil voorskryf oor die Belhar Belydenis. En as die blanke lidmate in die NG Kerk dit nie as 'n vierde belydenisskrif wil hê nie, dan moet die VGK dit so aanvaar. Boonop verkies elke kultuur om die eredienste in hulle eie taal by te woon en te aanbid. Edwin Müller, Sasolburg - Edwin Müller
 
Kerkeenheid
2010/04/06
Kerkeenheid tussen alle kerke met dieselfde belydenis en taal sommer more. Ek is sterk ten gunste daarvan. NG Kerk, Gereformeede Kerk, Hervormde kerk, en natuurlik ook die APK en Die VGK (sonder Belhar). Kerke met verskillende belydenisse is nie in gees een nie en 'n gedwonge strukturele eenheid sal net oneerlik wees. Ek het as lid van die ACDP vergaderings bygewoon waar 20 christene saam vergader van 13 uiteenlopende kerkgenootskappe (natuurlik ook verskillende tale, rasse, kleure ens). Die eenheid in Christus was egter oorheersend. Ook met ons aksies teen aborsie is ons van alle moontlike kerkgenootskappe daar verteenwoordig. Eenheid is nie en mag nie afhanklik wees van menslike strukture nie. Die uiterlike bepaal nie die eenheid nie.Dat God op 'n ...besonderse wyse die God van die noodlydendes, die armes en die verontregtes is.... is in stryd met Spr 22:2, Lev 19:15 en baie ander uitsprake.Ek is ryk en sou God dus nie aan my kant wees nie?? God is aan die kant van die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou!!!! God se geregtigheid is ten alle tye "sonder aansien van die persoon". Daarom is die tiende op almal van toepassing, ryk en arm!! Die "Moderne slim mense " het dit verander na 'n glyskaal waar rykes tot 50% en selfs meer belasting betaal en armes net BTW op sekere aankope. Dit is onreg. Abraham (die Bill Gates van sy tyd) was ryk en is deur God uitgekies, nie vanwee sy ekonomiese status nie maar vanwee sy geloof. Ons as christene mag nie begin om 'n verdeling tussen arm en ryk gelowiges te maak nie.Almal is ewe sondig en almal het Christus se verlossing nodig. Armes moet ook hul tiendes offer.As ons in ekonomiese klasse begin verdeel sal die dwaling baie groter wees as die dwaling van apartheid. Eenheid ja dadelik sonder Belhar. Met Belhar 'n baie besliste nee. Die dwaling van Belhar is groter as die dwaling van apartheid. Geregtigheid het niks te doen met arm of ryk nie. Maar met eerlike harde werk elkeen volgens sy vermoe. Vir die met minder vermoens is barmhartigheid van ons as christene uiters noodsaaklik en 'n groot en belangrike plig. Ons sal(en moet) dit doen asof vir Christus. - Jan Buter
 
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.