Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Die kerk het my trots gemaak

Ek was regtig trots op die NG Kerk toe ek onlangs van die Pretoria-Ooskerk af wegry. Wat daardie dag gebeur het, het soveel betekenis. Ek is al vir ’n geruime tyd bang dat die kerk besig is om ’n kultiese enklave te word. ’n Moderne gnostieke hub wat dink die waarheid sit net in besluite van vergaderings.

Prof George Claassen, dosent in wetenskapjoernalistiek en ’n bekende wetenskapjoernalis, het tydens die jaarlikse opening van die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria, kom praat oor evolusie en skepping.
Vir my het daar twee betekenisvolle goed plaasgevind. Die eerste is dat die kerk homself oopgemaak het vir iemand wat nie meer sy geloofoortuigings deel nie. Selfs iemand wat in alle godsdiens ’n renons begin kry het. Dit was terapie om iemand wat deel van jou eie kultuur is, so eerlik te hoor praat. Om te hoor hoe die wetenskap sy lewe en gedagtes na ’n nuwe plek, ’n nuwe oortuiging, gebring het.

Ek het nooit gevoel dat Claassen die kerk wil seermaak nie. Tussen spreker en hoorders was ’n ambience van respek. Almal het met aandag geluister. Daar was ’n openheid en ontvanklikheid.

Wat dit ook merkwaardig maak, is dat Tukkies die gesprek voer in ’n tyd waar daar baie publikasies verskyn wat geloof en godsdiens wil toemaak. En soms kru afmaak. Nie ligte boeke nie, goed nagedink en goed-nagevorste boeke waarvan die kerk moet kennis neem. En hier voor in die kerk kom staan iemand uit eie geledere, ’n Afrikaner in murg en been, en sê dat hy hom vereenselwig met die gedagtes dat geloof net ’n maaksel is van die menslike verstand.
Eweneens was die reaksie op Claassen se voordrag vir my betekenisvol. Die respondente was teoloë wat goed toegerus was. Hulle het nie die wetenskaplike teorieë probeer aanvat nie, maar met ’n kunstige aanslag daarop gewys dat as jy met geloof werk, jy by ’n ander deur moet ingaan.

Geloof het sy oorsprong in iets wat van Bo kom, wat ons nie kan verklaar nie. Daar is hartsdimensies wat jy nie met die proefbuis en die teleskoop kan beoordeel nie, maar wat vir mense die waarheid is. Dikwels die enigste waarheid. En vir baie is dit dié waarheid wat hulle lewe rig.

Vir my was daar nie ’n botsing tussen wetenskap en geloof nie. Nie daar nie. Daar was ’n erkenning dat elke mens moet weet dat die platform waarop jy staan, dalk nie die enigste waarheid is nie.

 
Kommentaar
Verby die skyn
2010/03/01
Daar is al heelwat kommentaar gelewer op hierdie webwerf oor hierdie saak. Ernstige vrae word ook aan die twee respondente, profs. Danie Veldsman en Cornel du Toit, op www.teo.co.za gevra. Lesers kan gerus daar gaan kyk. Tot dusver het hul geen antwoorde verskaf nie. Dit is nutteloos vir 'n ateïs om groot respek van Christelike teoloë te ontvang, maar hy word geensins met die evangelie gekonfronteer nie. Dit is soos om iemand op 'n afgrond te sien afjaag, en die beste wat jy doen is om hom jou mooiste glimlag met 'n vriendelike handwuif te gee. - Daniël Michau
 
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.