Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Sinisme moet plek maak vir Jansenisme

Suid-Afrika het dringend ’n volle lading Jansenisme nodig. Dit is tragies om te sien hoe prof Jonathan Jansen se pogings om ’n versoenende gemeenskap te skep, teengestaan word.

Bring mense bymekaar en leer hulle om as volwassenes mekaar te verstaan en met mekaar saam te leef. Daarvoor het jy vergifnis nodig. Haal die geweerlope uit mekaar se rue uit. Hou op met die kinderagtige styl van ontgroening. Sê vir die studente, kom ons vat die drank uit julle woonplekke, julle is duidelik nie opgewasse om dit verantwoordelik te gebruik nie. Dit is die soort sosiale ingenieurswese wat die land se kampusse dringend nodig het. Jansenisme. Bravo!

Dat Jansen vergifnis gebruik as die beginpunt van sy hervormingsidees, is merkwaardig. Dit is wat Jesus kom leer het. Sewentig maal sewe keer, toe Hy gevra is. Ons kan maar net hoop en bid dat Jansen se optrede ’n nuwe vuur vir versoening in ons land aangesteek het.

Maar, en daar is ’n groot maar. Al kraai die wit gemeenskap nou ewe hard agter prof Jansen aan, moet ons mooi dink of ons nie self in die visier staan nie? Ten spyte van ons weeklikse berou en pleit om vergifnis in die eredienste, byt gewone Christenburgers self maar langtand aan die ding om te vergewe.
Die wit Afrikaanse Christelike gemeenskap sal ook die ongewone stap moet neem en ’n paar mense vergewe wat ons nie graag wil vergewe nie. Dit is meesal mense wat dit wat hulle gedoen het, nie ongedaan kan maak nie, maar ons hou hulle ook graag in die fagot-posisie. Soos baie swart mense met die Reitz-vier wil doen.

Daar is baie swart en bruin mense wat na die apartheidsjare hulleself aan geld vergryp het. Toe hulle skielik mag gekry het en fondse kon bestuur. Wat toe die geleentheid kom, net nie kon ophou skep nie. Dit maak nie dit wat hulle gedoen het reg nie. Maar ons moet dit verstaan. Ons moet help dat dit reggemaak word en ons moet vergewe.

Ek ken baie egliede wat hulle huweliksmaats se swak impulsiwiteite nie wil vergewe nie. Ten spyte van eindelose berou. En kinders wat hulle
ouers nie van ’n vroeëre dwase optrede wil bevry nie. In die wit gemeenskap moet ons mekaar ook vergewe. Die verwyte oor wie die verlede verongeluk het, moet êrens ophou. Dit kan net begin as vergifnis diep in ons samelewing geplant is. As Jansenisme ’n werkbare lewensbeskouing geword het.

Wat groei as vergifnis nie geplant word nie? Verwyte. Mense wat met verwyte leef, vind skynbaar ’n behae daarin om pyn te sien en pyn te ervaar. Dit is ’n godlose wêreld.

 
Kommentaar
Waar begin vergifnis?
2009/11/08
Geregtigeid: Reg en verkeerd. Vergifnis: Vergewe en vergeet. Is daar ‘n skaal waarmee mens dit meet? ‘n Inhoudsmaat? Dalk ‘n tipe meetstok of iets soos ‘n skietloood of waterpas? Hulle sê die howe is daar om vir ons te vertel wat is reg en wat is verkeerd. Ons onthou nog die Waarheids en Versoeningskommissie. Kan iets méér rég of méér verkéérd wees as iets anders? Is daar nie dalk iets soos selektiewe geregtigheid nie?

Elke keer as ek oor die ongeregtigheid van die “Reitz-Vier” lees (en dit is nou nogal dikwels), dan kom daar ‘n sondige “ja... maar...” in my op: “Ja, dit WAS verkeerd maar wat van.... ?” En dan dink ek aan ‘n duisternis (volgens my) erger ongeregtighede waar baie mense worstel met vergifnis, soos onder andere in die geval van meer as 2000 boere wat soms wreedaardig vermoor is. Waarom is die reaksie in party gevalle erger en die aandrang op geregtigheid hewiger as in ander?

Kan vergifnis “goedkoop” gemaak word? Jesus Christus die Sondelose moes ‘n wrede kruisdood sterf vir elke mens se ongeregtigheid (2 Kor. 5:21). Moet ons nie elkeen soos Dawid heel eerste voor God se genadetroon neerval nie en sê : “Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in U oë” (Ps 51:6)?
- Henrietta Klaasing
 
Vergifnis en Vryspraak
2009/11/12
As ons God se eie model van vergifnis en vryspraak wil volg beteken dit juis dat dit nie op meriete berus nie, nie gebeur omdat daar reeds berou is nie en nie mooi gebalanseer moet word deur wat elders in die samelewing gebeur nie. God vergewe en spreek vry uit genade. Punt en klaar.

Dis wat Hy van ons vra om as sy kinders na Hom te aard. Dis wat Jansen gedemonstreer het. Prof Jansen kon sekerlik baie dinge uit sy eie persoonlike lewenservaring onthou het wat hierdie besluit vir hom baie moeilik sou maak, maar hy het besluit om te doen wat hy oortuig is reg is. Ongeag teëstand, persoonlike gevoelens of om na die pawiljoen te kyk.

Dis presies wat van elke gelowige gevra word - om rolmodelle van God se genade tussen stukkende mense te wees. Teen die eie natuur in.

Want dis hoe God met ons gemaak het.

Die soort gelykenis vra dapperheid.

Dit maak nie vergifnis of vryspraak of genade goedkoop nie. Daar word juis ‘n prys voor betaal! En dit dwing almal, die skuldiges , slagoffers en die publiek om weer te gaan dink oor hoe ons konflik in ons samelewing hanteer.

Dis dalk naïef, spring miskien die regsproses voor en is dalk nie aanvaarbaar vir almal nie, maar dit doen ten minste één ding wat ‘n verskil kan maak – dit bring koninkrykswaardes in ‘n vasgeloopte situasie in.

En dit gee hoop!
- Piet Steyn
 
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.