Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Van teemus na 'walkman'

Deur Johann Symington

Ons wêreld lyk nie meer dieselfde nie. In elk geval nie soos toe ek klein was nie. Toe was alles mooi op sy plek, elkeen het geweet wat om te doen. Maar nou is die wêreld redelik deurmekaar, want elkeen doen wat hy wil wanneer hy wil, soos hy wil. Harry Kunneman, ’n Nederlander, praat van die “teemus” en die “walkman” as die twee ikone wat die twee geslagte en tydperke ten beste verduidelik. Al is dit ’n oorvereenvoudiging, verduidelik dit die twee eras.

By ons op die plaas is daar elke middag stiptelik om vieruur tee gedrink. Dan het my ma die skinkbord vooraf reggesit - met mooi porseleinkoppies, koekbordjies, vurkies en die teepot getooi in ’n allerfraaiste teemus. Hierdie teemus sê vir Kunneman iets van daardie geslag. Die teemus-kommando glo aan rituele en voorgeskrewe gedragsreëls. Rolle en identiteite word duidelik omskryf. Almal weet presies waar en hoe hulle in die samelewing inpas. Daar is een groot metaverhaal waarin omtrent elkeen hom kon tuisvind.

Natuurlik bring so ’n teemus-kultuur groot voordele mee: Dit is knus en ’n mens voel veilig en warm en dit is stabiel en voorspelbaar. Maar dit kan ook benoud en broeierig onder die mussie word. En dan word verkeerde eiers, byvoorbeeld absolute gesag, deur strawwe gehandhaaf. G’n wonder die graadeentjies het almal geleer van eendjies wat in ’n ry stap nie. Follow my leader ...

Daarteenoor kry ’n mens weer die “walkman”-kultuur. Dit is die ouens wat in hulle eie wêreld met twee goed in hulle ore leef en vrede het met ’n teedrinkseremonie. Beweeglikheid en diversiteit kenmerk die “walkman”-bende. ’n Mens kan koop wat jy wil: materi¸le dinge, maar ook ’n ander stel waardes, ’n ander etiek, ’n ander identiteit. Everything goes.

Hoe gemaak? Die een groot metaverhaal het sy bindkrag verloor en kompeteer nou met ander kleiner en soms hoog verindividualiseerde metaverhale. Die teemus-kommando wil die oorfone uitpluk en die “walkmen”-bende wil nie hulle voete in die bedompige ruimtes van die teemus-kommando sit nie.
Ook in die kerk bots hierdie twee kulture en daarom bestuur gemeentes toenemend die diversiteit deur verskillende soorte eredienste aan te bied. Vir die teemus-kommando is dit die orrel en die Liedboek. Vir die “walkman”-bende die “band” en die vrye keuse van liedere.

Is afsonderlike dienste ’n wapenstilstand, ’n oplossing, ’n akkommodering of ’n verloëning van die Bybelse ideaal van die hele familie saam om God se Woord? Dink mooi.

 
Kommentaar
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.