Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 30 Julie 2010

Was die sokker 'n groei-stimulant of vergeetmedisyne?

Die Wêreldbeker-Sokkertoernooi wat so pas verby is, het ons almal gemesmeraais. Moor en mohammedaan het gevuvuzela en gevlag dat die biesies bewe. Wat ’n voorreg dat ons land so ’n ervaring kon hê!

Hoewel ek en my bondgenoot, prins William, steeds nie van die toneelspelery op die sokkerveld hou nie, het ons die skouspel en sy byprodukte terdeë geniet. Ons kan almal trots wees op die wonderlike organisasie, die fantastiese stadions en onse Bafana Banafa wat gelyk het of hulle skielik op steroïdes is.

Daar is een ding waaroor almal nou wonder: Gaan die Ayoba-stimulant dit regkry om ons ná die Wêreldbeker steeds in die “gelukkige” Suid-Afrika te hou? ’n Suid-Afrika waarvan ’n paar rye bakstene van die rassemuur afgebreek is. Waar daar ’n beter vasvat van misdadigers was. En helaas, waarin mense se hart warm gegloei het vir hulle land en sy mense.

Die Sokkerwêreldbeker het gewys dat sport ’n groot geneesmiddel is. Nie net vir individue nie, maar ook vir ’n samelewing. Kyk net hoe helend en versoenend het die sokkertoenooi op die Reënboognasie ingewerk. Ons moet eerlik wees, die sokkertoenooi het meer reg gekry vir versoening as wat enige geloofsgroep in die land nog kon doen.

Wat ons gesien het is dat ons mense – al ons mense –  lief is vir ons land! Dit is seker. Die miljoene vlae wat gewapper het, was die taal van ’n nasie se harte. En die kultuurgrense wat oorgesteek is, is ’n teken van die enorme welwillendheid. 

Of was die vyf weke van euforie net ’n slaapdrankie? Dit is sleg om selfs net daaraan te dink. Ons kan mos nie weer terugkeer na ’n samelewing van verwyt en wantroue nie. Ons wil nie dat misdaad ons gemeenskapslewe domineer nie. Of dat korrupsie die ekonomie en werksetiek skeeftrek nie.

Die groot probleme waarmee ons te doen gehad het, is nog steeds daar. Daar is donker wolke rondom landbougrond wat nie wil wyk nie. Regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging is nie die ideale manier om mense selfrespek te gee nie. Dienste van plaaslike munispaliteite is ’n kopseer waaraan ons gou-gou herinner gaan word.

Maar die Sokkerwêreldbeker het gewys ons kan groot dinge aanpak. En ons kan daarvan ’n sukses maak. Die Ke nako-gees moet voortleef! Dit is moontlik om die samelewing só te herstruktureer dat dit regverdig en waardig is. Dit hoef nie met geweld en verwyte en wantroue en rassisme gepaard te gaan nie.

Ons vlaggies moet aanhou waai. Maar nou moet hulle sê: Ons harte pleit vir geregtigheid en eenheid in ons geliefde land!

 
Kommentaar
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
 
Anton Pienaar sê sy sê Argief
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.