Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Kon GKSA anders besluit oor vroue?

Dis nie die eerste keer dat dié kerke weifel wanneer groot besluite geneem moet word nie. In die 90ger jare het die GKSA ook nie hulle weg oopgesien om voor die WVK ‘n verklaring oor apartheid saam te stel nie, in weerwil van lidmate se oorweldigende steun vir die Nasionale Party en later Konserwatiewe Party in die verlede nie.

 

Die besluit laat ‘n paar vrae by lidmate:

  • Terwyl daar verklaar is dat die besluit die antwoord van God op daardie oomblik is, wonder mens wat die geval is by daardie kerke waar vroue wel toegelaat word om ouderling of predikant te wees.
  • In ‘n land waar gelyke regte vir man en vrou grondwetlik beskerm word, wonder mens of lidmate opportunisties optree as hulle in die sekulêre wêreld hierdie gelykheid opeis maar nie in die religieuse sfeer nie.

 

Persoonlik dink ek die GKSA kon nie ‘n ander besluit geneem het nie, want ‘n godheid wat diskrimineer tussen mense vorm die basis van hulle geloofsisteem. Die besluit toon ‘n hermeneutiese noodwendigheid.

 

Omdat biologiese geslagsbepaaldheid nog altyd as ‘n skeppingsgegewe gefunksioneer het, word die sinode net uit mans saamgestel. In die mate wat so ‘n vergadering nooit hulle eie geslagtelikheid verreken in besluite wat die ander geslag raak nie, verdoesel hulle hulle eie manlike dominansie. Op daardie moment begin manlikheid sistemies werk. Die noodwendige gevolg is seksisme en eksklusiewe taalgebruik.

 

Die besluit wek die indruk dat ‘n seksisties-saamgestelde vergadering nie anders kan as om ‘n seksistiese besluit te neem nie. Dit word versterk deur die eksklusiewe taalgebruik wat onversuikerd voorkom in die herderlike skrywe wat die besluit gevolg het. Wanneer die skrywe verwys na die “broederlike gees” waarmee gepraat is, besef mens dat hulle nie anders kon nie, want die susters was afwesig.

 

Metodologies toon die besluit ook ‘n noodwendigheid. Binne die GKSA het die grammaties-historiese benadering omtrent die gesag van ‘n belydenisskrif. Dié benadering sluit egter van meet af aan sekere aspekte uit, soos ideologie.

 

Dít is fataal vir ‘n besluit oor die rol van vroue in die kerk. Die ideologie waarmee mans na die teks kom en die ideologie waarmee die teks (deur mans) geskryf is, het nooit op die tafel gekom nie. Geen wonder dat patriargale idees telkens maar net weer in die teks teruggevind word nie.

 

Dié benadering verban enige menslike aspek in die leesproses, want die mens en sonde is sinoniem. Die uiteinde is ‘n gebrek aan ‘n historiese bewussyn met die mens as ontvanger van ‘n teks wat uit die lug geval het.

 

Die gevolge is velerlei. Nie alleen word die kerke binne ‘n teologiese ghetto vasgehou nie, maar vertoon ook elemente van narcissisme. Omdat buite invloede geïgnoreer word, bly die groep net met hulleself besig.

 

Die besluit toon geen blyke van ‘n etiek van Bybellees nie:

 

  • Die besluit het nie geregtigheid laat geskied aan die Bybelteks in sy historiese ontstaansomstandighede nie (indien wel, moes patriargie aan die orde gekom het).
  • Die besluit noop lesers om nie eerlik te wees oor die invloede wat op hulle inspeel in die verstaansproses nie. Sondigheid hef nie die mens se leesvermoë op nie.
  • Maar erger nog, soos die brieweblad van Beeld (veral 3 Julie 2009) getuig, die merke wat so ‘n besluit op die vrou se psige laat, word onder die mat gevee met ‘n herderlike skrywe wat God vir die besluit verantwoordelik maak. Dit klink baie vroom maar by my laat dit die indruk van lafhartigheid om die besluit nie op ‘n redelike wyse te verantwoord nie.

 

Lidmate mag wel beswaar teen die besluit maak via die kerklike weg. Maar as die kerklike weg van meet af aan ‘n wanbalans toon ten opsigte van vroue, watter kans het so ‘n beswaar teen ‘n oormag van mans?

 

In werklikheid is dit vroue wat die merke van die mans se verstaan van die Bybel moet dra sonder dat die mans tot verantwoording geroep kan word.

 

Gerrie Snyman is lidmaat van die Gereformeerde Kerk Rooihuiskraal en dosent in Ou Testament aan Unisa. Hy is die skrywer van die boek Om die Bybel anders te lees. ‘n Etiek van Bybellees. (2007, Griffel, Pretoria). Die reaksie is op versoek van Die Kerkbode geskryf.

 

 

 
Kommentaar
Vrou in die kerk
2009/12/30
Hierdie is 'n argument wat baie eenvoudig, maklik en sonder moeite op gelos kan word!

1) Wat se die skrif oor die rol van die man beide in die saamelewing en ook in die kerk?

2) Wat se die skrif oor die rol van die vrou beide in die saamelewing en ook in die kerk?

Wanneer daar oor rol vertolking binne die kerk geargumenteer word, word YAHWEH se woord tot twyfel gestel! Dit IS so eenvoudig! Lees wat se die woord, en pas dit hiervolgens toe!

dominique.thom@gmail.com - Dominique
 
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.