Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Die regte ding om te doen

PIK BOTHA

Die eerste gedagte wat by my opkom is hoe ons vrygewiger  teenoor arm en behoeftige mense kan optree sodat dié wat baie het, nie te veel sal hê nie en dié met ’n bietjie, nie te min nie.

Ek meen die antwoord is dat ons bebeleggings moet doen wat nie aan markkragte en -insinkings onderhewig sal wees nie. Ons moet in die jeug belê.
Ons jeug wil aan die juk van apartheid ontsnap. Die oorweldigende meerderheid jong Afrikaners deel nie die siening van sommige van die ouer geslag dat die land uitverkoop is toe ons ’n nuwe grondwet in onderhandeling met die ANC in 1994 tot stand gebring het nie. Maar hulle voel verontreg dat daar met regstellende aksie teen hulle gediskrimineer word. Hulle wil die land help opbou. Ons kerk het ’n positiewe rol op dié gebied te speel.

Verskeie krisisse staar ons in die gesig. Misdaad, swak dienslewering, wat die swart mense erger as die wit mense knou omdat daar meer swart mense is wat onder misdaad, gebrekkige gesondheidsdienste, onderwys en vakopleiding ly. Ons kerk, wat ’n integrale deel van ons burgerlike samelewing is, moet in ’n groter mate fokus op daardie aspekte wat die gewone mense se lewe ten nouste raak: gesondheidsdienste, gehalte van onderwys, voedselproduksie, vakkundige opleiding en behuising. Die ANC-regering het hulp op hierdie terreine  nodig. Pres Jacob Zuma het na die Afrikaners uitgereik en gesê hy het onder andere die Afrikaners nodig om ons land op te bou.

Kom ons los nou die onaangenaamhede van die verlede en fokus op wat ons land nodig het. Daar is in ons gemeentes ingenieurs, dokters, boukontrakteurs, loodgieters, rioleringsbestuurders, elektrisiëns, padboukundiges, veiligheidsdeskundiges en talle ander vakkundiges. Ons kerk het ’n geleentheid om die kundiges saam te trek en met die betrokke owerheidsinstansies te skakel en aan te bied om in die nypende tekorte te voorsien. Ons moet nie wag totdat ons gevra word nie: ons moet aanbied en daad by die woord voeg.

Ons hele land is met bottels, plastieksakke en blikke bevuil. Ons kerk kan ’n positiewe rol speel om die gemors opgeruim te kry. Ons kan landwye aksies beplan en in ons gemeenskappe van stapel stuur in samewerking met plaaslike en provinsiale owerheidsinstansies en ons skole.

Klimaatsverandering gaan ons almal tref. Volgens deskundiges sal dit weldra te laat word om die fatale gevolge van aardverwarming te stuit. Wanneer die vernietiging van die aarde deur menslike optrede in die hand gewerk word, het die kerk ’n plig om die aarde, wat deel van God se skepping is, te help red. Ek is oortuig daarvan dat ons jeug, wie se toekoms op die spel is, ywerig sal meedoen aan die uitvoering van projekte wat daarop gemik is om die aarde van ondergang te red.

Ons probleem is dat daar baie hieroor gepraat en bitter min gedoen word. Groot, swierige internasionale konferensies vind so elke 12 maande plaas. Deskundiges waarsku, maar regerings is aan die tirannie van die onmiddellike geketting. Moet al die steenkoolkragstasies sluit? Moet alle motors verbied word? Moet al die fabrieke tot stilstand kom? Nee, maar die huidige gesloer om wesentlike verandering te maak, stop nie die horlosie wat die punt van onomkeerbaarheid aftik nie.

Wat is ons kerk se standpunt hieroor? En hoe kan ons kerk aktief by hierdie voortbestaanskrisis betrokke raak? Hoe kan ons die lelies van die veld red wat beklee was met groter skoonheid as Salomo se prag en praal?
Bogenoemde voorstelle is bedoel om ons kerk meer aktief betrokke te maak by burgerlike optredes in ooreenstemming met ons Christelike uitgangspunte.

Ek sou graag wou praat oor ander kwessies wat ook knaag. Waarom is die “hoofstroom”- Afrikaanse kerke ná amper 150 jaar nog nie verenig nie? Wat verhinder dit? Wie verhinder dit? Sekerlik nie Christus nie.
Ons weet wat die regte ding is om te doen, maar ons verseg om dit te doen.Geen enkele teoloog kan vir my sê of Christus gekant was teen die bekleding deur vroue van dieselfde ampte as mans in die kerk nie. Paulus was nie Christus nie. In ieder geval, het ’n bekende teoloog vir my gesê, is daar byvoegings aan sommige van sy briewe gedoen deur monnike wat gevrees het dat vroue te veel invloed in die kerk kan bekom. Weer eens weet ons wat die regte ding is om te doen, maar ons volhard om dit nie te doen nie.

En dan is daar nog die sinodesittings. Dit dryf ons jeug weg van ons kerke. Daar word tot vervelens toe geworstel oor Belhar, psalms en/of gesange, vroueampte, gays en weersprekende vertolkings van Bybelgeskrifte, in plaas van om te konsentreer op die duidelike riglyne van Christus se leerstellings. Dink net hoe inspirerend sinodesittings kon wees as musiek, kunsuitstallings en lesings wat die heelal ontsluier, die oorheersende deel kon wees van ons besinning oor die onbepaalbare almag van die Skepper en die diepte van Christus se leerstellings.

- Mnr Pik Botha was  tot 1994 minister van buitelandse sake en het ook twee jaar in oud-pres Nelson Mandela se kabinet gedien.

 
Kommentaar
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.