Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Terwyl sy bid is 'n geluid in die verte gehoor

Andrew Murray (jr) het homself as ’n geroepene van God gesien om met gewone mense in hulle alledaagse omstandighede te werk. Hy het nie in ’n ander soort werk as die van ’n gewone predikant belang gestel nie. Enige pos by die kweekskool op Stellenbosch of ander soortgelyke betrekkings het hy net nie oorweeg nie.

Sy gemeentelede was deel van sy lewe en hulle het mekaar wedersyds geïnspireer en ondersteun. So byvoorbeeld het hy en sy gemeente op Wellington vir langer as 30 jaar die opleiding van die kerk se sendingwerkers finansieel gedra. Hierdie interaksie tussen hom en die gemeentelede is van die mees uitstaande aspekte van Andrew se werk en lewe.

Andrew Murray se vader, ook Andrew Murray, is op 26 Mei 1794 naby Aberdeenshire in Skotland gebore en is oorlede te Graaff‑Reinet op 24 Julie 1866. Na Murray (sr) se besluit om na Suid-Afrika te kom, word hy eers deur die ring van Aberdeenshire as predikant georden en gaan daarna vir tien maande na Utrecht, Nederland om die Hollandse taal aan te leer. In 1822 vertrek hy na sy nuwe tuisland en word bevestig in die gemeente Graaff-Reinet waar hy vir byna 45 jaar as predikant sou werk.

Andrew Murray (sr) het gereeld Vrydagaande vir herlewing in die kerk gebid. Hierby het hy verhale van vroeë herlewings in Skotland en ander lande gelees. Sy kinders sou nooit vergeet hoe hulle buite sy studeerkamer gestaan en luister hoe hard hy gebid het vir die Heilige Gees om neer te daal  nie. Die vader het ook gereeld en ernstig by sy kinders aangedring op ’n persoonlike geloofsbeslissing.

Die onderwerp word gereeld gesien in die korrespondensie tussen John, Andrew en hulle vader, terwyl hulle in Europa gestudeer het.
Die invloed wat Andrew (jr) se ouers op hom gehad het, blyk duidelik uit die volgende wat Andrew self daaroor gesê het: “A godly parentage is a priceless boon. Its blessings rests not only upon the children of the first generation, but has often been traced in many successive generations.”

Andrew Murray (jr) is op 27 Mei 1860 te Worcester bevestig. Die jong Andrew het net op die regte tyd na Worcester gekom. In teenstelling met sy voorganger se bedaarde manier van preek, was Andrew vol lewe en vuur. Toe hy te Worcester bevestig is, was hy slegs twee en dertig jaar oud en vol van jeugdige voortvarendheid.

Die gemeente was in teenstelling met Bloemfontein baie kleiner in grondgebied. Bloemfontein was amper waterloos, terwyl die leivore in Worcester vol water was. Bloemfontein was geleë op die grens van ’n boomlose vlakte wat omring is deur talle koppies. Die boere was hoofsaaklik landbouers. Die wyn- en vrugteboere en hulle plase was maar klein teenoor die veeboere van die Vrystaters s’n. Andrew se “kudde” in Worcester was nou naby aan hom en maklik bereikbaar.

Met die opening van die Kweekskool te Stellenbosch in November 1859, het  twee kweekskool-professore aangekondig dat ’n belangrike konferensie in April 1860 op Worcester sou plaasvind. Omtrent twintig NG leraars het van 18 tot 19 April 1860 te Worcester vir die konferensie byeengekom. Daar moes gepraat word oor sendingwerk, onderwys, instandhouding van die Sabbat, geestelike bediening, die openbare pers en geestelike opwekking. Daar was ook ’n behoefte aan gesprek en geestelike broederskap onder die predikante. Andrew (sr), met sewe van sy seuns en skoonseuns, het die konferensie bygewoon.

Een van die uitvloeisels van die konferensie was die verkryging van meer leraars, sendelinge en onderwysers uit die buiteland. Die konferensie sou ’n belangrike agtergrond vorm vir die ontstaan van die sogenaamde Opwekking of Herlewing.

Tydens die konferensie het dr Robertson van Swellendam gepraat oor die uitstorting van die Heilige Gees en vertel hoe daar in Engeland, Skotland, Ierland en in die Verenigde State ’n kragdadige herlewing op geestelike gebied gekom het. Hoofkenmerk van die herlewings was die waarde wat aan gebed geheg is. Gedurende die Worcesterkonferensie is daar baie tyd gewy aan openbare gebed. Algemeen word erken dat die herlewing wat gevolg het, gebore is uit ’n gebed wat Andrew (jr) tydens die konferensie gedoen het. Die herlewing het soos ’n veldbrand oor ’n groot deel van die land versprei. Nie minder nie as  50 jong mans het hulle na die konferensie kom aanmeld vir die Evangeliebediening.

Baie lidmate wat die konferensie bygewoon het, was so besiel met die boodskap dat hulle dit in hulle eie buurte en wyke gaan uitdra het. Die eerste duidelike tekens van die herlewing in Suid‑Afrika het in die gemeente Montagu gedurende Mei 1860 te voorskyn getree. Van daar het die herlewing versprei na Robertson en Worcester. En nog later het dit ook na die gemeentes Tulbagh, Wellington, Paarl en Swellendam versprei.

In Worcester het die opwekking eers in die plaaswyke gebeur. In die Overhex-wyk was ouderling Dawid Naudé die ywerige leier. Ook in Hexrivier, Goudini en langs die Breederivier het die opwekking kragdadig voortgesnel.

Die biduur langs die Breederivier was voor die herlewing sukkelend. Skielik het daar groot geesdrif opgevlam. Daar was ’n groot toeloop van mans, vroue, jongmense en kinders. Gou het die beweging na die dorp Worcester versprei. Dirk de Vos het ’n saal in Adderleystraat, bekend as die ‘kapelletjie”, vir byeenkomste beskikbaar gestel.

’n Jongman van 19 jaar, JC de Vries (later ds JC de Vries), het een aand die biduur gelei. Ongeveer 60 mense het dit bygewoon. Toe gevra is dat van die biduurgangers liedere moet voorstel, het ’n vyftienjarige bruin meisie verlof gevra om ’n lied op te gee. Die biduurleier het ietwat huiwerend sy toestemming gegee. Sy het toe haar lied opgegee, en hartroerend begin bid. Terwyl sy bid is ’n geluid in die verte gehoor wat al hoe nader gekom het, totdat dit gevoel het asof die saaltjie skud.  Daarop het feitlik alle aanwesiges begin bid, sommige sag maar ander luid.

Dieselfde aand het Andrew (jr) ’n Engelse diens in die kerk gelei. Op pad huis toe het ouderling Jan Rabie die geklank uit die saal gehoor en vir Andrew gaan roep. Andrew was klaarblyklik ontevrede met wat hy gesien en gehoor het. Hy het hard uitgeroep: “Mense, bly stil,” maar dit was tevergeefs. Hy het die lied laat sing: “Help de ziel die raadloos schreit,” maar selfs die lied het nie die mense tot bedaring gebring nie. Met die woorde: “God is een God van orde, en hier is alles chaos,” het hy die saaltjie verlaat.

Ten spyte van die leraar se afkeuring het die getal biduurgangers so toegeneem dat die dienste in die skoolgebou voortgesit moes word. Die volgende Saterdagaand het Andrew self voorgesit. Hy het ’n deel uit die Bybel gelees en toe self voorgegaan in gebed. Onder die gebed is dieselfde geluid gehoor en spoedig het almal begin bid. Andrew het dadelik tussen die mense beweeg en probeer om hulle stil te maak.

Daar was ’n vreemdeling by die deur en hy het saggies na Andrew gestap en in Engels gesê: “I think you are the minister of this congregation. Be careful what you do, for it is the Spirit of God that is at work here. I have just come from America and this is precisely what I witnessed there.”

Die gebeurtenis het ’n diep indruk op Andrew gemaak. Hy het besef dat sy gemeente besig was om ’n geestelike omwenteling te ondergaan. Die lewelose vormgodsdiens het begin plek maak vir ’n diep geestelike lewe.

Ook Andrew het ondervind dat die nuwe geesdrif nie tot woorde beperk was nie. Die gemeente het mildelik begin bydra vir die sending van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap.

Die opwekking is druk bespreek op die daaropvolgende ringsvergadering. In sy godsdiensverslag het Worcester se kerkraad gewys op die goeie vrugte van die herlewing, maar tog gemaan tot versigtigheid. “Wij moeten ons verheugen, maar met bewing.” Die gebeure het aanleiding gegee tot die publikasie van slegs die tweede van al sy boeke wat Murray geskryf het, De kracht des gebeds, aan die einde van 1860.

Andrew (jr) se belangstelling in sendingwerk is in sy ouerhuis gekweek en in sy oom John se huis in Aberdeen verder versterk. In die loop van sy bediening het sendingwerk in Suid-Afrika en die res van Afrika baie toegeneem. Meer as 12 sendinggenootskappe is in Suid-Afrika gevestig in die tyd van Andrew se bediening.

In 1857, toe hy nog ’n jong predikant in Bloemfontein was, het Andrew (jr) lid  van die Sinodale Kommissie van die NG Kerk geword. Die Kommissie sou aandag skenk aan buitelandse sending en sou later vervang word deur die Algemene Sendingkommissie.

Andrew se passie vir sending het nooit getaan nie. Hy het nooit gehuiwer om self die hand diep in die sak te steek vir sendingwerk nie. ’n Goeie voorbeeld daarvan was toe daar aan hom en Emma ’n eersteklaskaartjie aangebied is op sy reis na Amerika in 1895. Hulle het tweedeklas gereis en die orige geld aan die Sending gegee. Toe hulle in hulle huis, Clairvaux, ingetrek het, het die kerkraad aan Emma ₤50 (R100) vir nuwe meubels gegee. Nadat hulle die huis deurgekyk het, het hulle vriendelik geantwoord dat hulle so kon klaarkom en dat hulle graag die geld vir sending wou gee. Dit is toe gedoen.

- Dr Jurie Joubert is ’n historikus van Wellington.

 

Feeste wil weer herlewing sien

“Suid-Afrika het die geestelike herlewing wat 150 jaar gelede in Worcester en ander dorpe in die Hexriviervallei plaasgevind het, dringend nodig,” sê ds Willem Badenhorst van die NG Gemeente Moreletapark.

“In herlewing werk God bonatuurlik. Mense draai terug na God en draai weg van sonde. Kerke loop oor, mense groei geestelik en vergewe mekaar. Ons sien die Heilige Gees werk op ’n nuwe kragtige manier. Die 1860 gebeure staan in die volksmond bekend as die  Andrew Murray herlewing.

“Gedurende hierdie herlewing het duisende mense na God teruggedraai. Honderde sendelinge is vanuit gemeentes die wêreld ingestuur en ’n nuwe passie vir gebed het in die kerk posgevat. Een van die wonderlike gevolge van hierdie herlewing is die tradisie van Pinksterbidure wat in 1861 ontstaan het.
“In Pinkster 2010 gaan daar ’n herdenking plaasvind van die herlewing wat in 1860 gebeur het.

“Buiten dat ons God wil dank vir dit wat Hy doen en gedoen het, wil ons Hom opnuut vertrou vir herle­wing in sy kerk vandag.”

Twee herlewingsfeeste word beplan. Enigiemand is welkom om die feeste by te woon. Die eerste fees is 6-8 Mei op Worcester, en die tweede fees is 14-15 Mei in Moreletapark.

Sprekers wat tydens die geleenthede sal optree is onder andere drr Henry Blackaby, Richard Blackaby en Sammy Tippet (al drie van Amerika),  Angus Buchan, dii Elza Meyer, Willem Badenhorst, Dirkie van der Spuy, en drr Bennie Mostert en Francois Carr. Meer inligting kan verkry word op die volgende web­blaaie: www.heartcrysa.com en www.moreleta.org; en registrasie kan gedoen word op: www.itickets.co.za; www.moreleta.org en www.heartcrysa.com

Die kontakpersone is Carol Niezen by 012 997 8054 of e-pos carol@moreleta.co.za en die HeartCry kantoor by e-pos office@heartcrysa.com of 012 348 4488.

 
Kommentaar
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.