Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Wat maak die internet met die kerk? Wat maak die kerk met die internet?

Nou is die kommunikasieskakel op die NG Kerk se webwerwe na Kletskerk heeltemal verwyder. Dit gaan egter nie die internet wegneem nie. En die internet is besig om die gang van die mensdom te verander. En ook die gang van godsdiens. Cobus van Wyngaard se artikel behoort ons almal aan die dink te sit.

In 1882 het Friedrich Nietzsche vir homself ’n tikmasjien gekoop. Hy kon nie meer skryf nie omdat hy besig was om blind te word. Die tikmasjien het dit vir hom moontlik gemaak om aan te hou skryf.
Kort hierna het een van sy vriende egter begin opmerk dat Nietzsche anders begin skryf. Die manier waarop hy sy filosofie verwoord het, was besig om te verander omdat hy ’n nuwe stuk tegnologie gebruik het om mee te kommunikeer.

In ons kerklike tradisie het ons egter waarskynlik nog ’n meer radikale voorbeeld. In die 15de eeu is die drukpers ontwikkel, en toe Martin Luther ’n paar dekades later met sy bekende hervormings begin, het hy gebruik gemaak van traktaatjies. So het sy idees by die massas kon uitkom. Later het hy natuurlik die Nuwe Testament in Duits vertaal en versprei. Deur dit te doen het Luther nie net bekende maniere waarop verandering in die kerk gebeur vinniger laat gebeur nie. Hy het gesprek in die kerk in sy wese verander deur ’n nuwe antwoord te gee op die vraag: “Wie mag die Bybel lees?” Maar dit was tegnologie wat dit moontlik gemaak het om hierdie vraag te vra, en ’n ander antwoord te gee. Noudat dit moontlik was om vir elke persoon wat kon lees of skryf ’n Bybel te gee, kon ons vir die eerste keer sê dit is belangrik dat elkeen die Bybel self lees.

In 2006 was die tydskrif Time se Persoon van die Jaar “jy”. Jy. Soos in “ek” en “jy”. Die gewone persoon wat inligting skep en op die internet laai deur blogs, wikis, youtube-video’s ensovoorts.

Daar was nog nooit in die geskiedenis een stuk kommunikasietegnologie wat so ’n deurdringende invloed op die samelewing gehad het as die internet nie. En die tempo waarteen verskillende aspekte van die internet groei, bly verbysterend.
In 2009 het Facebook se gebruikers verby die 350 miljoenmerk geklim en Twitter het teen die einde van 2009 tien keer meer gebruikers gehad as aan die begin van dieselfde jaar.

Die vraag wat ons baie ernstiger moet begin vra, is: Wat is die implikasie vir die kerk en teologie? Wat gaan die kerk met die internet maak? Of dalk eerder: Wat gaan die internet met die kerk maak?

Die kerk, of enige instansie, hou oor die algemeen van tegnologie wat lyk of dit potensiaal het om dinge beter, makliker, vinniger en doeltreffender te maak. Maar wat gebeur wanneer tegnologie begin om dit wat ons vir honderde jare rigting gegee het, uit te daag? Is dit moontlik dat die vrae wat die internet vandag moontlik maak, net so indringend gaan wees vir die kerk as dié wat 500 jaar gelede na die drukpers gekom het?

Natuurlik sien die kreatiewes onder ons die moontlikhede raak om dit wat ons nog altyd gedoen het, beter te doen. Om nuwe dinge te doen wat help om ou waarhede kreatief te kommunikeer. Maar dalk het ons ook die waagmoediges onder ons nodig, wat nou reeds waarsku dat die internet, die tegnologie, ons manier van dink gaan verander, en in die proses dalk ook ons teologie gaan verander. Dit kan nie anders nie. Dit is reeds besig om te gebeur.
Op Facebook kom jongmense, wat lanklaas in die kerk was, en vooraanstaande teoloë in gesprek met mekaar. Sonder titels. Sonder CV’s. Hier is almal gelyk. Op Sondag staan ons predikante egter op preekstoele, met ’n gesag wat ons gekry het in ’n ander era, toe ander reëls gegeld het, en ander tegnologie gebruik is om te kommunikeer. Die wêreld waarin ons meer en meer begin leef, vra kritiese vrae aan die mono­loogkultuur.

Die internet het ’n wêreld van gesprek geskep. Waar dit moontlik is vir elkeen om ’n eie stem te hê. Waar dit vir my moontlik is om stemme te hoor, nie omdat hulle deur ’n institusie aangewys is om te praat nie, maar omdat hulle glo hulle het iets om by te dra en ek glo hulle het iets vir my te sê.

Die tegnologie maak dit vir ons moontlik om in die teologie nuwe antwoorde op moeilike vrae te gee: Wie mag saampraat? Wie het die reg om te help vorm aan die teologie van die dag? Die kultuur wat rondom die internet ontstaan maak dit feitlik onmoontlik om iets anders te antwoord as: Almal wat wil. Almal is welkom.

Die realiteit vandag is eenvoudig dat gesprekke oor God, teologie, hetsy positief of negatief, gaan plaasvind. Ruimtes waar gespreksgenote mekaar op gelyke voet kan ontmoet, gaan aanhou ontstaan. Bloggers gaan aanhou om te sê: “Hier is ek, ek glo ek kan ’n bydrae maak.” En hulle bydraes gaan gelees word. Die vraag vir die kerk is eenvoudig: Gaan ons deel wees van hierdie gesprekke? Gaan ons onsself waag in ’n ruimte waar die gesprek belangriker as die monoloog is? Gaan ons toelaat dat die tegnologie van ons dag ook nuwe moontlikhede oopmaak vir die teologie?

- Ds Cobus van Wyngaard is predikant by die Familiekerk NG Kameeldrif. Hy blog by anderkant.wordpress.com en mycontemplations.wordpress.com en kan gevolg word op Twitter by www.twitter.com/cobusvw

 
Kommentaar
Kerk & Internet
2010/03/06
- Kerk & Internet is een ding. NG Kerk & Internet is iets anders.
- Kerk & Internet beteken dat enigiemand vanuit enige perspektief 'n opinie kan/mag hê en daaroor mag dink, voel en skryf soos hulle wil, wanneer hulle wil, waaroor hulle wil.
- NG Kerk & Internet: Lidmate en Ampsdraers van die NG Kerk het by 'n liggaam aangesluit en is ingesluit agv 'n deeglike ondersoek, waarna hulle gesê het: "Ek stem saam" en "Ja". Op grond daarvan het ‘hulle’ lidmate van die NG Kerk geword. As ‘hulle’ nie meer vanuit daardie gekose perspektief, dieselfde opinie het oor Kerk-wees en daaroor saam-dink, voel en skryf, soos ‘hulle’ gesê het ‘hulle’ doen/sal doen nie, kan ‘hulle‘ nie maar wanneer ‘hulle’ wil en waaroor ‘hulle’ wil; dink, sê en skryf nie. ‘Hulle’ mag wel deur die amptelike kanale kapsie maak en argumenteer, ens.en die kanale het reëls en besluitnemings instrumente. ‘Hulle’ het mos na die reëls van dié spesifieke "Klub" gekyk, dit goedgekeur en "Ja" gesê. Dit is tog nie "rocket Science" nie?
- Jan Grey
 
nuwe brue tot eenheid
2010/03/06
Goeie artikel Cobus! Omdat ek jou persoonlik ken (en eintlik leer het op die internet) sou ek wou byvoeg dat die internet ook nuwe brue skep tussen gelowiges, tussen kerke, ens. Dit bied nuwe ruimtes om mekaar dieper te leer ken as formele vergaderings waar ons uit die loopgrawe mekaar aangluur.
Dit beteken egter nog nie, dat gespreksgenote bloot vanuit hierdie interaksie 'op gelyke voet' is nie, maar dis 'n belangrike voetjie vorentoe op ons pad. - Reggie Nel
 
Onderdanigheid aan "die klub"
2010/03/17
Jan Grey skrywe: "Hulle’ het mos na die reëls van dié spesifieke "Klub" gekyk, dit goedgekeur en "Ja" gesê."

Jy bedoel dus lidmaatskap van die NG Kerk moet wees soos die Broederbond van ouds, nie waar nie Jan? Ek is bevrees dinge werk lankal nie meer so vir enige organisasie nie, nie eens die kerk nie. Verál nie die kerk nie. - Stefan
 
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.