Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Moreleta wil diensbaar wees in die NG Kerk

“Twintig jaar gelede het ons in die skoolsaal kerk gehou. Na die ooste was dit meer veld as huise. Maar die ontwikkeling het ons oorval. Die saal het oorgeloop. Ons het geweet ons moet ’n plan maak. Toe gaan kyk ons na Universiteitsoord se gebou. In ons koppe was dit die ideale kerkgebou.” Aan die woord is Dirkie van der Spuy, die naam wat sinoniem geword het met die enigste mega-gemeente in die NG Kerk, Moreletapark.

“Die mense het net meer en meer geword. Ons het regtig nie geweet vir hoeveel mense moet ons voorsiening maak nie. Toe ons Absa nader vir R3 miljoen, was hulle antwoord botweg nee. Kerke is ’n risiko. Gelukkig het Perm tot ons redding gekom.”

Ek stap deur die nuwe parkeerterrein met sy jong boompies, nuwe kikoejoegras en vars plaveisel. Links lê die veelbesproke plakkerskamp en voor my die ouditorium wat sitplek vir 7 100 mense het. Wanneer ek naby die ouditorium kom, sien ek my spieëlbeeld in die groot glasventers wat noordoos toe oopmaak. Ek draai regs na die nuwe kantoorkompleks.

“Ons het nooit besluit ons wil ’n megagemeente word nie. Dit het net gebeur. As ek terugdink, dan dink ek die Here het liggies voor ons uitgeloop. Ons kon nie vooruitsien nie. Niemand het voorsien dat soveel mense hulle in so ’n kort tyd hier sou kom vestig nie. Ons het baie opsies oorweeg: Moet ons nie dalk afstig nie? Uiteindelik het ons in Amerika gaan kyk hoe werk ’n makro-gemeente, en toe besluit ons om die model te probeer.”

’n Groepie ouerige mense stap by die kantoorkompleks uit net toe ek by die deur ingaan. Ook hulle vriendelikheid val my op. Binne stap mense oral flink rond. Die ambience wat ek aanvoel, is een van mense wat gelukkig is en wat in gelukkige verhoudinge met mekaar is.

Voor die venster van Dirkie se kleinerige kantoor op die grondvloer, word ek die eerste keer daarvan bewus dat die Woodlandkompleks prominent op ’n heuwel gebou is. Van die boonste vloer af het ’n mens ’n 360 grade-uitsig.
“Die kompleks in Rubensteinstraat het gou te klein geword. En wéér moes ons besluit of ons nie maar moet afstig nie. Ons was absoluut afhanklik van die Here. Waar sou ons grond kry? Ons was op die grens van Pretoria se munisipale gebied? Ons het talle opsies oorweeg. Daar was ’n groep lidmate wat getrou hier op hierdie terrein kom bid het. En ’n kruis hier geplant het. Uiteindelik het ons hierdie wonderlike stuk grond op die heuwel gekry.”
Die sukses van Moreletapark is welbekend. Meer as 15 000 lidmate. ’n Ouditorium wat meer as R100 miljoen gekos het om te bou. Die kantoorkompleks met van die modernste media­geriewe, en wat twee derdes reeds afbetaal is. ’n Uiters effektiewe kleingroepbediening, duisende jongmense wat saans die kerk vol sit. ’n Magdom van mense wat getuig dat hulle geestelike seën daar ervaar.

Sommige kyk met bewondering na wat Moreletapark regkry. Selfs met jaloesie. Ander staan skepties, hoe kan so ’n groot gemeente werk? Sommige brom dat Moreleta van hulle beste lidmate afgerokkel het.

“Moreleta wil nie bestaan ten koste van ander gemeentes nie. Ons het nie vooruit beplan om so groot te word nie. Ons het ook geen strategie om lidmate van ander gemeentes te gaan werf nie. Ek dink wat gebeur, is dat mense van ons manier van bediening hou. Daar is baie wat by ons behoort te wees, wat nie hiervan hou nie, en eerder by ander gemeentes inskakel.

“Ons moedig ook lidmate van ander gemeentes, wat kursusse of iets by ons bywoon, om terug te gaan en in hulle eie gemeentes te gaan inploeg. Daar was ’n tyd dat ons gedink het dat die NG Kerk ons situasie nie verstaan nie. Toe ons nagmaal in kleingroepe wou bedien en die Kerkorde ons voorgehou is. Gelukkig was daar ander mense in die kerk wat verstaan het, en gelukkig het daardie houding verander. Ons is ook dankbaar teenoor die gemeentes in ons Ring. Hulle het heeltyd by ons gestaan en dit het vir ons baie beteken.

“Moreleta is deel van die NG Kerk en wil diensbaar vir die kerk wees. En ons probeer dit doen. Indien daar gemeentes is wat hulp nodig het, sal ons help waar ons kan. Ons sal graag help om daar aan te bied wat ons hier doen. Ons stel ons kleingroepmateriaal gratis beskikbaar.

“Dit is belangrik dat almal weet dat Moreleta net een doel het, en dit is om Jesus aan mense te verkondig. Jesus is die rede vir ons bestaan. Hier kom elke week mense tot bekering. En dit is vir ons wonderlik. Ons is dankbaar dat dit hier gebeur.”

Is daar spanning tussen Moreleta en die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria? Dit kom onwillekeurig in my op. Sal dit nie tragies wees as daar verwydering tussen die NG Kerk se opleiding en hierdie suksesvolle mega-gemeente is nie?

“Nee, daar is nie spanning nie. Ons verstaan en respekteer teologiese opleiding. Dit is die plek waar gewerk word met al die fasette van teologie. En dit is goed so. Ons word dikwels daarvan beskuldig dat ons fundamentalisties is. Ons is nie fundamentalisties nie. Ons werk met die Bybel en probeer leef soos wat ons daarin lees. Vat nou maar die gesprek oor homoseksualiteit. Ons het erkende en gerespekteerde teoloë van ons kerk gevra om ons te help met die verstaan van Romeine 1. Hulle ondersteun ons verstaan van die gedeelte.”

Die kantoorkompleks, waaroor Moreleta nou in die nuus is, is veel meer as ’n klompie kantore. ’n Vinnige waarneming is dat dit ’n sentrum is waar mense toerusting gaan ontvang. Waar daar maatskaplike en sielkundige dienste gelewer kan word. Die media-afdeling, met sy moderne ateljee en allerbeste toerusting, is ’n teken dat die gemeente kommunikasie verstaan. Die oprigting van die kompleks het ’n groot klomp geld gekos, in enige terme. Hoe antwoord hulle die beskuldigings dat die geld op ander plekke nodiger was?

“As ons oor geld praat, kan ons getuig van die Here se versorging. Ons het ’n beginselbesluit geneem dat meer as die helfte van ons inkomste aan projekte buite die gemeente bestee word. En ons sal by die besluit bly, al gaan dit hoe swaar. En ja, ons is betrokke by die plakkerskamp hier langs ons.
“Ons plaas nie druk op mense oor geld nie. Ons het een keer vir dr Bruce Wilkinson hier gehad toe ons moes begin fondse insamel om die groot ouditorium te bou. By dié geleentheid het baie mense baie beloftes gemaak. Van die baie groot bedrae wat daar belowe is, het nie so baie gerealiseer nie. Die meeste geld kom van gewone lidmate wat ons entoesiasme oor Jesus deel. En wat glo in wat ons doen en dit ondersteun.”

Ek het ’n ambivalente gevoel gehad toe ek daar wegry. Die kerk kan nie orals so lyk nie. Ek dink ook dat hierdie grootsheid kleiner gemeentes kan verswelg, hulle minderwaardig kan laat voel. Tog kan ek nie anders as om trots te wees op die NG Kerk nie. Daar is wonderlike talente in die kerk. En ’n dinamika. Dit word opnuut duidelik in die bestaan van ’n gemeente soos Moreleta. In die NG Kerk is ons nie bang om te waag nie. Betree ons dikwels die onbekende omdat ons glo en vertrou dat God by ons is. 

En ek kry ook ’n rustigheid oor die andersheid van Moreleta. Die NG Kerk bestaan uit ’n diverse klomp mense, met verskillende idees en interpretasies. Maar ons kan mekaar omarm, want ons hart klop dieselfde.

 
Kommentaar
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.