Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Jy trou om te hou

Skrifbewys
Die Bybel is nie meer so uitdruklik oor saambly nie. Die sewende gebod (“jy mag nie egbreuk pleeg nie”) het net te doen met die verbreking van ’n huwelik, en het nie direk betrekking op ongetroude mense nie. Jesus waarsku: “Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg” (Matt 5:28). Ook in hierdie geval gaan dit duidelik oor getroude persone. Immers presies wat doen ’n jongman wat op ’n jongmeisie verlief is? Die Griekse woord vir “begeer” beteken iets soos “graag wil hê”. Dit is tog seker wat ’n jongman of meisie dink. Maar ’n getroude mag nie ’n ander vrou/man begeer (wil hê) nie.

In Deuteronomium 22 word ’n aantal gevalle van ongeoorloofde seksuele verhoudings behandel. In die meeste gevalle is dit met die dood strafbaar – maar nie vir ’n man wat seks het met ’n ongetroude meisie nie. Hy moet net ’n bruidskat aan die pa betaal en dan met haar trou. Dit beteken dat seks buite die huwelik reeds in die Ou Testament verskillend beoordeel word vir verskillende groepe, al is dit wel duidelik dat dit nooit goedgekeur word nie.  

Groepe saamblyers
Miskien is dit die grootste probleem: Ons kan nie alle saamblyers onder dieselfde kam skeer nie. Daar is uiteenlopende groepe, onder andere rondslapers, geriefsoekers, proefkonyne.

Rondslapers bly nie regtig saam nie, hulle slaap rond en bont, vannag hier, môrenag daar, en oormôrenag dalk weer hier. Orals waar jy welkom is.
Miskien is hierdie groep die maklikste om te beoordeel. Op die plaas werk dit ook só. Die bul is welkom by enige koei. Hy vat net ’n bietjie langer voor hy weer na dieselfde een terugkom. Maar is mense nie darem bietjie anders as diere nie? Is daar nie ook iets soos privaatheid en selfrespek nie?

Geriefsoekers kan in minstens drie groepe verdeel word. Daar is jongmense wat op die punt staan om te trou, maar dan verander hulle omstandighede skielik só dat dit goedkoper of baie makliker word om saam te bly. Maar daar is ook ouer mense wat graag wil trou, maar hulle kan nie bekostig dat die geskeide vrou haar onderhoud verloor nie. En dan ook nog ons vriendin van oor die tagtig wat eendag vra: As sy en die ou oom wat elke môre by haar kom tee drink, nou saam see toe gaan, moet hulle regtig twee kamers huur?
Dit lyk my duidelik dat ons nie eens hierdie drie groepe onder dieselfde kam kan skeer nie!

Proefkonyne beskou die huwelik as ’n baie ernstige saak, en juis daarom wil hulle vooraf seker maak dit gaan werk. Hulle vriende is reeds geskei en dit is ’n deurmekaarspul. Dit klink goed om vooraf seker te wil maak, en daar is sekerlik mense wat dit ernstig bedoel. Maar sê nou dit werk nie? Hoeveel keer gaan jy probeer? Hoeveel keer het jou maat al met iemand anders probeer? As hy/sy vooraf probeer het, gaan hy/sy nie dalk ná die troue weer “probeer” nie? Is die “proefhuwelik” nie dalk ’n simptoom dat jou maat nie bereid is om ’n “commitment” te maak nie? Dán kry ek jou jammer.

Waardes
Dit gaan uiteindelik nie oor wette van Mede en Perse nie, maar oor waardes. Kom ons kyk na drie: Selfbeheersing, respek en sekuriteit.

Selfbeheersing
In werklikheid bied seksuele onthouding voor die huwelik ’n goeie kans om jou eie selfbeheersing én dié van jou maat te toets en te ontwikkel. Seksuele selfbeheersing is baie belangrik in die huwelik. Daar is dikwels tye wanneer die man hom moet kan inhou. Soos wanneer sy vrou siek is, men¬strueer of verwag. Verder gaan hy natuurlik as getroude man ook met ander vroue te doen kry, en daar gaan versoekings kom. Seksuele selfbeheersing kan gemeet en geoefen word deur nie saam te bly voor die troue nie. Dit is deel van algemene selfbeheersing, en ’n persoon sonder selfbeheersing is ’n pyn. Raak so gou as moontlik van hom of haar ontslae!

Respek
’n Man dreig soms ’n meisie af met: As jy nie wil nie, het jy my nie regtig lief nie. Dit toon ’n gebrek aan respek. As dit voor die huwelik so is, gaan dit daarna nog erger wees. Om met iemand saam te leef wat nie respek vir jou het nie, is afbrekend en vernederend. Die teenoorgestelde is die evangeliese waarde dat ek my maat moet hoër ag as myself (Fil 2:3-8). Dit werk in ’n huwelik! én vóór die huwelik! En dit is nodig om regtig gelukkig te wees!

Sekuriteit
Die formele huweliksbevestiging bring ’n element van sekuriteit, wat ’n bloot persoonlike besluit van twee mense nie het nie. Om ’n huwelikseremonie te reël, om openlik voor almal trou aan mekaar te beloof, om formeel te hoor dat julle wetlik getroud is, skep tog ’n ander atmosfeer as ’n blote private besluit om by mekaar in te trek. Dit is deel van “commitment”. As ek seker voel van my maat, kan ek myself regtig gee. Ons moet so veilig voel dat ons selfs ’n hewige uitval kan hê sonder om te wonder of my maat dalk sal dreig om te loop. ’n Mens soek ’n maat vir solank as jy lewe.

Jy trou om te hou.
Jy hanteer die probleme met die uitgangspunt: Ons bly bymekaar.
Onthou die bank se leuse: Vandag, Môre, Altyd Saam.
 
¢º Adrio König is ’n emeritus professor by Unisa.

Wat is die huwelik?
Die saambly-onderwerp het einde 2009 ’n behoorlike gegons veroorsaak. Uit sekere kringe is die NG Kerk sterk veroodeel, ten spyte daarvan dat die ondersoek nog nie eens begin is nie! Die redakteur van die Overstrand Herald, Dries Vermeulen, het ook sy stuiwer in die armbeurs gegooi. Met sy vergunning, plaas ons die artikel wat in die uitgawe van 8 Januarie 2009 verskyn het.

Nou wat sê ons van paartjies wat saambly?
Vele van ons ken seker paartjies wat saambly, sommige is ons eie kinders. Wat sê ons daarvan? Is dit reg of verkeerd?

Die NG Kerk het aangekondig dat die Taakgroep vir Leer en Aktuele sake ondersoek gaan instel oor die kwessie van paartjies wat ongetroud is, maar saambly. Dit laat ’n mens wonder of verwikkelinge in die samelewing buite die kerk so vinnig verander het dat die kerk agter geraak het.

In ’n stadium het die Algemene Sinode die regering gevra om owerspel en saambly-verhoudings te verbied. Die kerk se standpunt is dat die huwelik die enigste ruimte vir seks is en daarbuite is seks sonde. 

Maar wat van poligamie wat in die Bybel voorkom? En boonop het die Bybel nie die huwelik soos ons dit vandag beoefen, geken nie. Sommige huwelike werk net nie uit nie. ’n Bejaarde vrou woon soms saam met ’n man omdat sy haar pensioen sal verbeur as sy trou. Sommige paartjies begeef hulle in ’n duursame verhouding, maar trou nie amptelik nie.

’n Mens wonder hoe huwelike ontstaan het? Ons weet dat daar vandag nog families en kulture is waar huwelike van jongmense gereël word sonder dat hulle ’n sê in die saak het. Bruidskatte word betaal. Volgens een bron dateer die gebruik van die verloofring uit die dae van die Romeine. Daar word geglo dat die ronde verloofring ewigheid simboliseer – ’n verbintenis vir ewig.
Daar is glo op ’n tyd geglo dat ’n aar of senuwee van die ringvinger van die linkerhand regstreeks na die hart loop.

Die beskouing van die huwelik as ’n sakrament, en nie net ’n kontrak nie, word teruggevoer na Paulus. Hy het die verhouding tussen ’n man en vrou vergelyk met die verhouding tussen Christus en sy kerk. Joseph Campbell beweer in sy boek The Power of Myth dat dit eers in die twaalfde eeu was dat minnesangers aan liefde gedink het soos ons vandag doen. Romantiek het blykbaar nie voor die Middeleeue ’n rol gespeel nie.

Een van die oudste opgetekende huwelikswette kom voor in die Kode van Hammurabi wat in Mesopotamië van krag was. Een van die moontlike redes vir die huwelik is dat die man seker kan wees hy is die pa van die vrou se kinders. Hy sou moontlik bereid wees om ’n bruidsprys te betaal, of vir ’n vrou te sorg vir die alleenreg op seks.

In The Women’s Encyclopedia of Myths and Secrets skryf Barbara Walker die woord “marriage” kom oorspronklik van die Latyn maritare, verenig (union) onder beskerming van die godin Afrodite-Mari. Sy beweer, omdat die beskerming van die godin ’n belangrike rol in die huwelik gespeel het, was die ou Christenvaders gekant teen die huwelik as instelling.

“Origen declared, ‘matrimony is impure and unholy, a means of sexual passion.’ St Jerome said the primary purpose of a man of God was to ‘cut down with an ax of Virginity the wood of marriage.’ St Ambrose said marriage was a crime against God, cause it changed the state of virginity that God give every man and woman at birth. Marriage was prostitution of the members of Christ, and ‘married people ought to blush at the state in which they are living.’ Tertullian said marriage was a moral crime, ‘more dreadful than any punishment or any death’”, skryf Walker.

Verseker het die huwelik ’n geskiedenis en was dit nou gekoppel aan die manier waarop daar neergesien is op vroue. Walker maak hierdie skerp stelling: “Wife-beating was a by-product of the Christian view of woman as man’s property.”
Dit lyk of ons in die NG Kerk nog steeds aan die geskiedenis skryf. Walker sê gedurende die Middeleeue was daar geen kerklike definisie van ’n geldige huwelik of ’n kontrak waarvolgens dit geldig is nie. Die kerkleiers het dit maar aan die gemenereg oorgelaat.

 
Kommentaar
Dries Vermeulen se artiekel
2010/02/02
1. “’n Mens wonder hoe huwelike ontstaan het?”
Gen 2:22 & 24 En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot 'n vrou en bring haar na die mens…. Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.

2. “Die beskouing van die huwelik as ’n sakrament, en nie net ’n kontrak nie, word teruggevoer na Paulus.”
Die beskouing van die huwelik as ‘n sakrament word nie na Paulus toe teruggevoer nie maar na die Roomskatolieke Kerk (RKK). Konsilie van Florence 1442.

3. “Romantiek het blykbaar nie voor die Middeleeue ’n rol gespeel nie.”
Ek weet nie of Dries Vermeulen bekend is met Hooglied nie.

4. “Sy (Barbara Walker) beweer, omdat die beskerming van die godin ’n belangrike rol in die huwelik gespeel het, was die ou Christenvaders gekant teen die huwelik as instelling.” Daar is niks hiervan in die Bybel nie.
Die ou christenvaders was waarskynlik gekant teen die huwelik agv hulle misinterpretasie van 1 Korinteers 7 waar Paulus die ongetroude staat as meer voordeling vir diens aan God aanbeveel, vir die aan wie dit gegee is om ongetroud te bly, omdat die dienaar hom nie oor ‘n gesin hoef te bekommer tydens vervolging nie en meer tyd het vir dienswerk. Hulle het ook verwag dat die wederkoms binne ‘n kort tyd gaan gebeur.
Die feit dat sommige christenvaders die huwelik as onwaardig beskou het wys vir ons dat sola scriptura die standaard moet wees en nie ou vadertradisie nie. Veral as mens kyk na die losbandigheid onder die verpligte selibaat van die RKK. 1 Tim 4:1-3 noem die verbod op huwelik te reg‘n ‘lering van duiwels’ dit lei tot losbandigheid en selfs misdaad.
Dries haal ook die ou christenvaders aan, soos aangehaal deur Barbara Walker. Ek stel voor dat mens eers haar aanhalings van Hieronimus, Ambrosius en Tertulianus moet nagaan.

5. “Verseker het die huwelik ’n geskiedenis en was dit nou gekoppel aan die manier waarop daar neergesien is op vroue. Walker maak hierdie skerp stelling: “Wife-beating was a by-product of the Christian view of woman as man’s property.””
Die aantrekkingskrag van die christendom vir vroue in die tyd van die apostels en kort daarna was juis dat vroue as susters in Christus erken en beter behandel was as die res van die bevolking. Paulus groet vele vroue op die naam in sy briewe. Efesiers 5:25 en 1 Pet 3:7 stel vir die manne die standaard ‘Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het.’ Dink bietjie hoe lief het Christus die gemeente gehad lees Romeine 5 om uit te vind.
Die Bybelse christelike siening van die vrou is defnitief nie een van materieele eiendom wat jy kan mishandel nie. Om te beweer dat vroueslanery ‘n produk is van ‘n ‘Christian view’ is getuig van uiterste onkunde.

Barbara Walker beskryf haarself as ‘n ateis in die boek The Skeptical Feminist: Discovering the Virgin, Mother, and Crone. The American Humanist Association benoem haar as Humanistiese Heldin 1993 en 1995. Vandag word enige aanhaling sommer as die waarheid beskou. Die vraag is; wat is die invloed van Barbara Walker se Ateisme, Femminisme en Moontlike Wicca (Virgin-Mother-Crone idee) op haar siening van die Bybel en Christendom?
- Nico B
 
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.