Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Woodstock en Houtstok het ons wêreld vir altyd verander

Dié protesmusiek het nie daardie naweek opgehou nie. Vandaar af sou dit weerklink oor die hele wêreld. In Suid-Afrika het die Voëlvrybeweging en Houtstok die noot gevind. Dit het die kerklike lewe en tradisionele kultuur van Afrikaners ingrypend verander. Johann Rossouw dink na oor die impak van daardie bedompige reënerige aand op ’n Amerikaanse melkplaas.

JOHANN ROSSOUW

Om vir die veertigste herdenking van die Woodstock-fees genooi te word om vir Kerkbode ’n artikel oor die betekenis van die geleentheid te skryf, is ironies as ’n mens vandag, sonder dat jyself daar was, iets van die destydse tydsgees probeer verstaan.

By nabetragting was Woodstock, soos dit mettertyd sou bekendstaan, die versinnebeelding van een van die twee groot dryfvere in die Amerikaanse kultuurpolitiek, naamlik die strewe na universele vrede, liefde en harmonie.
Tekenend hiervan was die inseëning van die fees deur die Indiese ghoeroe en kultusfiguur, Swami Satchidananda: ’n seëning ontvang deur die jeug van die Westerse land met verreweg die meeste praktiserende Christene.

Die gees wat by Woodstock geheers het, en wat by die Westerse jeug so ’n belangrike politieke en geestelike rol sou speel, is verwoord deur die eienaar van die melkplaas waar dit gehou is, Max Yasgur. Hy het oor die halfmiljoen feesgangers gesê: “As ons by hulle aansluit, kan ons daardie teenspoed wat vandag Amerika se probleme is, verander in die hoop op ’n helderder, vreedsamer toekoms.”

Die religieuse taal wat Yasgur hier gebruik, maak dit duidelik dat Woodstock ver van bloot ’n sekulêre byeenkoms was.

Die ander groot dryfveer in die Amerikaanse kultuurpolitiek is die dikwels gewelddadige poging om ’n Amerikaanse orde, waarvan die kapitalisme van oneindige groei en verbruik die kern vorm, wêreldwyd te vestig.
Gedurende die 1960’s is hierdie dryfveer versinnebeeld deur die Viëtnam-oorlog, wat uiteindelik tot 1975 geduur het. Dit verg nie veel om in te sien nie dat dieselfde jongmense wat na Woodstock gestroom het, ook simpatiseerders van die vredesbeweging en die verset teen die Viëtnam-oorlog was.

Kortom, in Woodstock en Viëtnam is die Janusgesig sigbaar van die land wat enersyds by die meeste oorloë in die twintigste eeu betrokke was en die atoombom gebou het, maar andersyds die ruggraat van die sekulêre strewe na vrede was en rock, pop, folk en jazz aan die wêreld gegee het.

Dit is hierdie dubbelsinnigheid waarna een van die leidende postmoderne denkers, Zygmunt Bauman, verwys in Modernity and Ambivalence (1991) wanneer hy aanvoer dat die moderniteit van die afgelope twee tot drie eeue verstaan kan word as ’n voortgaande stryd tussen die poging om orde te vestig te midde van immerdreigende chaos.

Volgens Bauman is hierdie spanning tussen moderne orde en chaos verantwoordelik vir die stemming van dubbelsinnigheid wat so tekenend van die Westerse wêreld en wyer geword het. In sy terme lê Woodstock ongetwyfeld op die pool van immerdreigende chaos.

Per slot van rekening het almal, vanaf die feesorganiseerders tot die plaaslike gemeenskap en die owerhede, absolute chaos verwag van ’n fees waar aanvanklik slegs 50 000 mense hulle opwagting sou maak.

Die feit dat hierdie spontane, “chaotiese” gebeurtenis uiteindelik juis so ordelik verloop het, was ongetwyfeld een van die oomblikke in die onlangse moderniteit waar die spanning tussen orde en chaos kortstondig opgehef is. Vanwaar ook die religieuse ondertone van die fees waarna ek reeds verwys het.
Suid-Afrika en meer spesifiek die Afrikaanse wêreld se Woodstock-oomblik het ongetwyfeld sowat twintig jaar na die oorspronklike fees aangebreek in die laat 1980’s, met die Voëlvry-beweging.

Soos miljoene jong Amerikaners twintig jaar tevore met ’n betreklik eenvoudige en naïewe visie (soos alle suksesvolle visies) met musiek as gemene deler teen die orde, versinnebeeld deur die chaos van Viëtnam in opstand gekom het, so het duisende jong Afrikaners rondom Voëlvry teen die chaos van wat apartheid geword het, in opstand gekom.

Die ooglopende parallel tussen die twee bewegings is dan ook in die vroeë 1990’s getrek met die kortstondige (en baie lekker) Houtstokfees op ’n plaas naby die destydse Warmbad, as ek reg onthou.

As ’n Houtstokfeesganger is my herinnering nie dat dit of die Voëlvrybeweging self die intense religieuse ondertone van die laat 1960’s in die VSA gehad het nie, maar dit was beslis ’n versamelpunt vir jong Afrikaners om taamlik rou uiting te gee aan ons frustrasie met die orde wat destyds deur die kerk, die skool en die weermag versinnebeeld is.

Maar wat was die breër betekenis van Woodstock? Op soortgelyke maar baie indringender wyse as die sekulêre Zygmunt Bauman identifiseer die praktiserende Katoliek en voorste Westerse filosoof, Charles Taylor, in A Secular Age (2007) ook die kwasi-religieuse krag in die Westerse moderniteit wat Bauman met chaos identifiseer.

Taylor herlei hierdie krag na die botsing aan die einde van die agttiende eeu in Europa tussen die filosowe van die sogenaamde Verligting, vir wie die redelike individu die hoogste was, en hulle kritici van die Romantiek, vir wie die emosionele en estetiese uitdrukking van individue of kollektiewe die belangrikste was.

Laasgenoemde beweging beskryf Taylor as die ekspressiwisme, en hy dui die strewe aan na ’n “outentieke” pad waarin uitdrukking gegee word aan ’n visie gebaseer op rou ervaring, as een van die blywende kragte in die hedendaagse Westerse moderniteit.

’n Mens hoef maar net na die ontploffing in Afrikaanse media, kuns en musiek (en ooremosionele godsdiensbeoefening) sedert die laat 1980’s tot vandag te kyk om te sien hoe invloedryk hierdie krag vandag onder Afrikaners is.
Tewens, die naïewe geloof in “outentieke” uitdrukking is waarskynlik vandag die grootste krag van sowel ekonomiese produksie as verbruik onder Afrikaners. Vra maar vir die musiekkanaal MK, Angus Buchan en Gretha Wiid.

Wat die religie betref, is daar min twyfel dat die voortgaande lewenskragtigheid van die ekspressiwisme uit ’n menslike hoek beskou waarskynlik die belangrikste bron van die hedendaagse religieuse soeke, vernuwing en praktyke is. Charles Taylor verbind groot  musiekfeeste (en sportgeleenthede) dan ook eksplisiet met die ekspressiwisme.

In die Afrikaanse religieuse lewe kan debatte oor groter emosionele belewing, sterker klem op liggaamlikheid, liturgie, stilte, die invloed van Oosterse religieë en dies meer alles met die eietydse ekspressiwisme verbind word.

Dit is egter belangrik om in te sien dat dit nie beteken dat dit waarteen in opstand gekom word, sonder meer agtergelaat word nie. Daar is eerder sprake van ’n voortgaande wisselwerking tussen die orde en die chaos, waarvan Woodstock ’n belangrike mylpaal bly.

* Vir die skryf van hierdie artikel is gesteun op die uitstekende Engelse wikipedia-artikel oor Woodstock http://en.wikipedia.org/wiki/Woodstock_Festival)


- Johan Rossouw is ’n filosoof en vryskut-joernalis.

 
Kommentaar
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.