Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 30 Julie 2010

NG Kerk deel van nuwe gemeenskap

Piet Strauss

Alles het glad verloop met die pasafgelope samesmelting van twee ekumeniese liggame in die gereformeerde wêreld: die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke wat uit 1875 en die Gereformeerde Ekumeniese Raad wat uit 1946 da

Nadat die nodige besluite op Vrydag 18 Junie 2010 geneem is, het die nuwe Raad, die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK) vanaf 18 tot 26 Junie in Grand Rapids, Michigan in die VSA vergader.

Die nuwe gemeenskap verteenwoordig na raming meer as 80 miljoen lidmate van meer as 200 kerke uit meer as 100 lande.

Gereformeerde, Presbiteriaanse, Kongregasionalistiese en Waldensiese kerke skaar hulle by die WGGK (Engels: World Communion of Reformed Churches, of WCRC).

Belydenisbasis, maar nie superkerk
Die basis van die WGGK is die Bybel as Woord van God. Volgens sy grondwet word sy gereformeerde identiteit uitgedruk in die ekumeniese belydenisse van die vroeë kerk. Belydenisse soos die Apostolicum of 12 artikels, die “historiese” belydenisse van die Reformasie, soos die Heidelbergse Kategismus en die lewe en getuienis van sy lidkerke.

Die WGGK wil egter nie ’n superkerk en sy Raad nie ’n supersinode wees nie. As ’n forum van kerke wil dit wel God se gawe van eenheid aan sy kerk bevestig deur die wedersydse erkenning van die sakramente, lidmaatskap, kanselwisseling, bediening en getuienis.

Volgens die nuwe grondwet beperk lidmaatskap van die WGGK nie die “outonomie” van ’n kerk of sy verhoudinge met ander kerke of ekumeniese liggame nie. Die WGGK wil deelnemende kerke slegs help om begrip en gemeenskap tussen hulle te bevorder en hulle verantwoordelikheid teenoor God beter te verstaan.

Geestelike gemeenskap en samewerking tussen lidkerke moet ook nie net tussen sekere ampte of groepe in die kerk wees nie. Die WGGK wil die vrou, die jeug, die diakonaat en lidmate in die algemeen by die gemeenskap en gesamentlike werksaamhede betrek.

Oogmerke
Die mikpunte of oogmerke van die WGGK kom in sy grondwet en enkele besluite wat deur die Raad in Grand Rapids geneem is, voor.

Kortliks kom dit daarop neer dat die WGGK gemeenskap tussen kerke wil bestudeer en verdiep. Die WGGK wil hom beywer vir geregtigheid of die reg van almal wêreldwyd, en sending as ’n kerntaak van die kerk beskou. Op hierdie punt was daar by die Raad nie altyd duidelikheid nie. In een besluit is vrede en geregtigheid as dié twee prioriteite van die WGGK beskryf, en in ’n volgende is na sending as ’n taak vanuit die hart van hierdie organisasie verwys.

Intussen het die teologiese lessenaar van die WGGK sy eerste leerskool vir teologiese studente vanuit sy lidkerke geloods. Van ons eie NG teologiese studente uit Stellenbosch het ook die kursus van die Global Institute for Theology (GIT) in die VSA bygewoon. Die voltooiing van die kursus het saamgeval met die eerste sitting van die Raad van die WGGK in Grand Rapids.

Vir die WGGK is sy teologiese tydskrif Reformed World ’n belangrike medium om die gemeenskap tussen sy lidkerke te bevorder.

Die organisasie word egter ook beperk deur die klein personeel wat sy sake in Genève behartig, sowel as beperkte fondse.

Suid-Afrika
Suid-Afrika en ons landsprobleme neem nie meer so ’n groot plek op die agenda van die WGGK in nie. Anders as wat dit met sy voorlopers die WBGK en GER die geval was.

Vanjaar was daar enkele verwysings na Suid-Afrika in die besluite.
Die WGGK benoem ’n taakspan om versoening en heling in die verhoudinge tussen die NG Kerkfamilie te bevorder. In dié verband word daar spesifiek verwys na besluite by Ottawa (Kanada) in 1982 en Debrecen (Hongarye) in 1997. By eersgenoemde is ’n status confessionis teen apartheid afgekondig. By laasgenoemde is dit vir die NG Kerk moontlik gemaak om weer sy volle plek in die Raad in te neem.

Die WGGK wil voortgaan om die eenheidsproses in die NG Kerkfamilie te fasiliteer. Sy nuwe president, dr Jerry Pillay van die Verenigde Presbiteriaanse Kerk in Suider-Afrika, neem reeds hierin die leiding.

Waarnemings
Die byeenkoms van die Raad in Grand Rapids laat ’n mens met spesifieke waarnemings.

Die WGGK is die grootste ekumeniese liggaam vir gereformeerde kerke. Die gedagte aan ’n forum wat lidkerke op geen manier beperk nie, maak dit ’n besondere aantreklike opsie. Selfs vir diegene wat vrees dat lidmaatskap jou kan kompromitteer met standpunte en aksies waarmee jy verskil. Boonop gee die idee van ’n nie-beperkende, vrylatende forum aan kerke die geleentheid om ’n positiewe rol te speel. Die NG Kerk moet daar wees!

Die WGGK het pas met sy verwysing na voorbeelde van onreg in talle wêrelddele getoon dat hy nie eensydig net op sekere probleme konsentreer nie. Wat wel in sy besluite hieroor opgeval het, is dat daar oor sekere gebiede sonder ’n deeglike of verantwoorde studie besluit is. Ek verwys onder meer na die sogenaamde druk op kerke in België, wat volgens die voorstellers van die vloer af ’n misverstand is. Die ou GER was daarvoor bekend dat sy besluite op deeglike studie berus en dat hy aan lidkerke wat anders dink, nie sommer ’n koue skouer gee nie.

Hoewel die WGGK intensief besig is met gereformeerde vorme van aanbidding, wonder ’n mens of alles wat by byeenkomste aangebied is, gereformeerd georiënteer is. Byvoorbeeld, watter maatstawwe gebruik hy vir moderne aanbiddingsmusiek én moet alle aanbidding ook formeel uitgeskrewe gebede en begeleide spreekkore bevat waarin clichés oor sake soos geregtigheid en vrede sonder ’n behoorlike Bybelse inkleding voorkom? Hierdie aanpak, wat gepaardgaan met ’n oormatige gebruik van “flouerige” uiterlike simbole, verskuif die Woord op die agtergrond. 

’n Mens is dankbaar dat die nuwe president en ons eie dr Kobus Gerber as iemand wat uit die ou GER kom, Suid-Afrikaners is wat tot die nuwe Uitvoerende Raad verkies is. Mag dit ’n aanduiding wees van hoe belangrik ons gereformeerde insette in hierdie organisasie geag word.

¢º Prof Piet Strauss is moderator van die NG Kerk

 
Kommentaar
WGGK speel kerk
2010/07/16
Die WGGK verteenwoordig niemand behalwe die afgevaardigdes waar daar sit nie. Dis alleen 'n gespreksforum (lees kletskamer) vir hoog bevooregte mense wat nie 'n probleem daarmee het om arm mense se aalmoese uit te rits nie. - Chris Potgieter
 
Nog 'n wit olifant
2010/07/21
Dit sal interessant wees om te weet hoeveel geld en mammekrag wat vir die verkondiging van die woord gebruik kon word (sendelinge te ondersteun, bybels te versprei ens) word op ekumeniese vergaderings geblaas. - Nico
 
Pluralisme en Geloof
2010/07/27
Waarskuwing: Die volgende kommentaar is van n nie-lidmaat en geen van die woorde is verantwoordbaar deur die redaksie of die kerk nie. Lesers moet bedag wees.
Prof. Piet Strauss staan skouer aan skouer met sy negatiewe siening oor Klassieke Darwiniese Evolusie leer met die korrespondent. Oor die eenheid van kerke moet ons bedag wees van die gevare. Eers is dit die eenheid van kerke, dan is dit die eenheid van godsdienste en laastens die eenheid van gode (politeisme). Konstantyn wou al drie bereik deur te fokus op die Christene en Sondag te kies as gerieflike aanbiddingsdag. Sy opvolger, die sogenaamde afgedwaalde Julianus (361-363) het met teoilogie probeer om paganisme gelyk te stel aan alle godsdienste, insluitend die Joodse geloof en Christelike geloof [laasgenoemde wat hy gehaat het]. Pluralisme, politeisme, pietisme, alles was deur Julianus in dieselfde mandjie geplaas. Prof. Strauss se konsep oor musiek in aanbidding is ook baie fyn geformuleer ongelukkig in net een paragraaf en ter aanheg kan ons se, die ongehoordheid van beweging, geamplifeerde klanke, eentonige ritme wat mens se voete nie kan stil hou nie, is ook iets wat in die kollig ondersoek moet word met so n kerk maalvleis. Baie dankie prof. Strauss vir u raakvat van die Bybel, ook oor evolusie. [Dr. Koot van Wyk (DLitt et Phil; ThD) Suid-Korea]. - koot
 
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
 
Aktueel Argief
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.