Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

My maa sê dit lyk vir haar ou jackie alibi was toe die hele tyd in daai mafiotti se sak finish en klaar, sak sarel! keer oom Cyril siestog dis die enigste manier waarop daai arme onderbetaalde gewese hoofseun van die polisiemanne kon neus bo water hou, doomnie weet oom Cyril kan partykeer lekker laf wees my maa sê sy wonder hoeka of daai haarsproei wat hy so op die tannies se stywe hare spuit nie partykeer sý kop sag maak nie maar ék weet dis net sy hart, oom Cyril sê ’n sagte hart sagte hande en veral sagte stem bring jou nêrens nie juis nie tussen kerkmense nie hulle reken hulle moet hárd skel om punte in die hemel te verdien.

Ek weet nie of ons kerk skatte op die aarde bymekaarmaak of byvoorbeeld ’n rekening by nedbank het nie maar doomnie moet oppas daai julius-die-slimme sê hy stop hom sommer en doomnie weet mos hy is dalk nie so goed met houtwerk of somme of geskiedenis of engels of die 800 meter vir vroue nie maar hy is beslis báááie goed met ’n kamera in sy gesig en ’n mikrofoon voor sy mond.

Maar doomnie hoef nie bang te wees dat ons publisiteit of moeilikheid of gesels soek nie ons steek mos nie ons neuse in ander mense se sakke nie, my maa sê ons beursies is nét so plat soos doomnie-weet-wie se kop daarom het ons nie sitplek op die soustrein of sakebelange in nestlé nie buitendien sê oom Cyril ons moet bitter bang wees vir die nuwe kaalkop 007 hy’s ’n alles-in-een mover & shaiker en wié weet wié is almal in sý sak.

Daarom sal ons niks doen om golwe vir die grootkoppe te veroorsaak nie, my maa belowe sy sal voortaan probeer swyg oor sustersverenigings & broederbonde gospelsangers tentpredikers geestelike boekwinkels & hulle bankrekenings afgetrede professore & hulle afgeleefde argumente, ék sal hard probeer om stil te bly oor my juffrou se godsdienslessies sy dink mos calvyn is ’n nuwe seun in graad sewe, ons albei sal probeer keer dat oom Cyril die tannies wie se hare hy doen se hartseerstories oor die ooms kom oorvertel. My maa sê hoe meer sy van húlle hoor hoe minder geloofwaardigheid bly oor en DIT kan ons nie ook bekostig nie, nie in ’n tyd soos dié nie, juis nie in hierdie agterste bank nie, veral nie altyd-reformerende immer-hoopvolle soekendes soos ek en my maa nie.

I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.