Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

My maa sê dis oor morsjorse dat die wêreld is waar hy is. Wáár is die wêreld dan? vra die vrome oom Cyril. Gûh! raas my maa lees jy dan nie die briewe wat die ingeligtes so sonder ophou skryf nie hulle probeer die wêreld red van al die skinderstories oor sy ouderdom en van daai evolusie en veral van die morsige geleerdes wat nie aan die genesishandboek oor die aarde se ontstaan glo nie.

Toemaar toemaar! troos ek my maa Gideon in my klas sê sy pa sê al vir báááie jare lank die aarde gaan een van die dae vergaan halleluja. Jippie sug oom Cyril DAN is ons tog ontslae van daardie wêreldwyse redding internasionaal ek hoop net dat daar in die nuwe hemel en die nuwe aarde genoeg blokkiesraaisels duiwevlieg meisieskyk & ander skadelose stokperdjies sal wees om hulle mee besig te hou anders ontwerp hulle dáár ook ’n veldtog om te voer ’n stryd om te stry ’n geestelike oorlog DAN begin die gemors weer van voor af.

Ai! kla my maa en as dinge boonop nie verander nie dan bly dit dieselfde nét toe ons gedink het dis veilig om dit weer in die water te waag toe steek daar nóg ’n doopding sy kop uit, ha! sê oom Cyril dáái is ’n monster met báááie koppe pasop vir hom en sy trawante.

Maar doomnie hoef nie bang te wees vir al die hoë woorde met hulle lae digtheid nie oom Cyril sê die flat earth society het nie ’n kantoor op ons dorp nie alles hier is mos hoog die kragprys die petrolprys die tannies se hare op Vrydae & Saterdae en hulle ooms se beginsels op ander dae as Vrydae & Saterdae, hy sê deesdae se kinders is ook oor naweke hoog selfs op óns dorp, sjjt! sê my maa NIE voor die kleintjies nie!

Ek sê toemaar ek is groot genoeg om te weet dat hoogvlieg hard val dat AL die kennis nie beteken jy het AL die liefde nie veral weet ek verseker dat onselieweheer nie nodig het dat ons hom moet red nie hy het dan vir óns gered KYK! ek het die bewys hier op my voorkop.

En ek weet kinders en doomnies moenie in die water mors nie daarom hoop ek doomnie is ook doodbang vir vuilspeel verál in die doopwater ons is ook versigtig vir hoog opgee oor allerlei sekerhede daarom lê ons meestal laag ons met die platterige hare, hier in die agterste bank, ek en my maa.

 

I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.