Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

My maa sê nou dat die wederopstanding van schabir ’n voldonge feit is kan ons enigiets in hierdie land verwag ’n mens kan sê die seisoen vir wonderwerke het op ons neergedaal ’n vroeë krismis as ’t ware. Joegaai! juig oom Cyril bo-aan mý wenslysie is ’n trippie in ’n nuwe ministeriële motor sodat ek vir die plebs deur die oopgeskuifde sondak kan wuif & ek wens dat daar ’n plek vir ruan pienaar in die agterlyn sal wees voordat dit te laat is & ’n streng dieet vir ricky januarie.

My maa sê wát van ’n vrouedominee vir die doppers duskant die wederkoms & ’n wag voor die welsprekende gretha se mond, oelala giggel oom Cyril, daai outjie sal moet koes sy salf hom sommer. Jip! sê my maa nadenkend ek sal darem graag ’n vlieg teen die muur wil wees as daai meisie en daaisteve mekaar eendag ontmoet.

Oom Cyril sê die ontmoeting wat hóm koue rillings gee is ou vaderjacob se kuikens wat fluks besig is om ál toi-toiend huiswaarts te keer en kom skree payback time! Daar is mos nie nóg joppies in die kabinet nie behalwe as hy schabir kan aanstel as minister van waarheid ons weet mos laasgenoemde is ’n shaiky besigheid. Absoluut! sê my maa geesdriftig en dan kan daai hlophelose ou regter terwyl hy sy kans afwag voorlopig as adjunk dien dán het ons als swart op wit.

Van wonderwerke gepraat sê my maa wánneer laas het ou vaderjacob gevra dat hulle sy masjiengeweer moet bring? Sjjjt! fluister oom Cyril benoud dáái umshini en ’n klómp ander is na zimbabwe libië iran en ander bakens van die beskawing aangestuur maar jy mag nie daaroor praat nie daai is diép tronksake die mense van die mediese parool sal jou byvoorbeeld nooit eens opspoor nie.
Maar ter wille van doomnie se gesondheid wens ons vir doomnie en al die ander doomnies ook ’n paar wonderwerke toe byvoorbeeld ooms wat nie byltjies wil slyp nie & kerktannies wat sélf die dertiende hebreeuse letter vir hulle blokraaie kan opspoor & ’n medeleraar wat opreg sê mooi so kollega! Intussen sal ons in die laaste koue van die winter ons bes doen om kerk te wees dit wil sê om ons arms wyd oop te maak en ons kniekombersie te deel al is dit maar hier in ’n agterste bank al is dit maar ek en my maa en mense soos ons.

 

I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.