Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Ek hoop nie doomnie is ook ’n vabond nie ALMAL staak mos nou en wát word sondag van ons? Oom Cyril sê ek hoef nie bang te wees nie daar is net 25% gemeentelede in die erediens van wie die helfte slaap of voltyds rondkyk terwyl die ander helfte bloedweinig verstaan. Dit SAL egter teenproduktief wees as doomnie die broers en susters as comrades aanspreek en net ’n breukdeel dit agterkom, hy sê doomnie moet eerder asdromme omkeer dan weet álmal, ek vra net asseblief doomnie moet tog nie begin toi-toi nie netnou lyk doomnie soos ’n gospelsanger en dan kom my maa nóóit weer kerk toe nie.
Doomnie moet tog nie sleg dink van my maa nie éintlik is sy báááie bang die kerkmense dink sy is nie ’n waardigevrou nie, toemaar toemaar troos oom Cyril die kerktannies wie se hare ek doen is beslis nie worthy women nie daar is aan húlle mans g’n salf te smeer nie.

Oom Cyril sê hy is die heel bangste dat daai hlophelose ou regter besig is om ’n comeback te maak hy wou mos laas die ander regters daarvan oortuig dat die linkerhand nie hoef te weet wat die regterhand doen nie hy sal énigiets wat na sy kant toe kom met albei hande aangryp en in sy sak steek. Buitendien weet ’n mens nooit met vaderjacob nie behalwe dat hy oral kwazulus aanstel ons kan bly wees hy kies nie die springbokspan nie dan was daar nét haaie, haai nooit! skrik my maa daar MOET plek wees vir daai kleinbrüssow wat so fluks in die losskrums is hy verteenwoordig die perfekte kombinasie van ons twee nasionale sportsoorte rugby & steel, my maa sê ten minste is die nuwe hoofseun van die polisie nie op sy mond geval nie, oom Cyril sê hy hoop net nie hy is bloot ’n grootbheki.

Maar doomnie hoef vir niks bang te wees nie behalwe om dalk sannieshof of greytown toe beroep te word of dat peter-die-bokwagter weer sal begin engels praat. Ons weet doomnie is lánkal nie meer bang vir die ooms in die voorste bank nie hulle vermoed mos doomnie kan hulle gedagtes lees nou is hulle bang vir doomnie. Ons sal dus aanhou probeer om doomnie te bemoedig & ’n vroliker perspektief te gee of ten minste betyds te waarsku onbevrees hier vanuit die agterste bank, ek en my maa.

 

I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.