Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Liewe julius

Ons doomnie sê ek moet vandag liewerster vir jóú skryf want jou ore het seker die laaste ruk getuit ons doomnie weet áls daarvan HY het mos die ooms in die voorste bank daarom het hy bááie simpatie met ander mense wat ook aanhoudend misverstaan word. My maa sê wat ons doomnie betref weet sy altyd wie het die mis en wie die verstand en met jou is dit gelukkig ook so. Sy sê ons moet net sorg dat iemand vir jou my briefie voorlees sodat jy goed kan verstaan maar ek moet liewerster nie my asem ophou nie. Siestog my maa hou altyd haar asem op wanneer ons kerk se koor sing sy is bang een van die sopraantannies bars ’n aar in die kop oor hulle so aanhoudend dieselfde deuntjie moet sing EK hoop nie jy gaan ook nie.

Ons doomnie sê dit gaan deesdae maar bars in ons land daarom moet ek vir jou vra of jy nie ’n bietjie sal dink voordat jy begin sing nie, oom Cyril wat partykeer by ons kuier sê hy is gewoond aan mense wat onophoudelik praat sonder dat hulle dink HY doen mos die tannies van ons kerk se hare en hulle het ook nie almal so goed gedoen in matriek nie al parkeer hulle ook deesdae four baai fours op sypaadjies.

Oom Cyril sê ek moet vir jou sê as jy verveeld raak met die myne wat nou joune is moet jy dalk ’n bietjie op facebook gaan kyk dis genoeg om enige mens wat kan lees bang te maak, my maa sê sy dink nie ons hoef te vrees dat jy dit sal doen nie dáárvoor moet ’n mens ’n password hê EN jy moet dit kan onthou.

Maar jy hoef nie bang te wees om in ons kerk te kom sit nie DALK net nie naby die ooms nie ons doomnie is nie altyd tuis by hulle nie en jy sal ook nie wees nie JY moet maar hier by ons kom sit dan sal ons jou wys wanneer om te sing en veral wanneer om stil te bly hier in die agterste bank, hier by my en my maa. (My maa sê sy kan nie belowe dat sy jou handjie sal vashou soos ou robber van zimpapwe nie en oom Cyril sê ek moet net vir jou waarsku dat daar ’n bordjie sal verbykom maar dis nie óók vir jou nie dis vol kleingeld daarom is dit mos vir ons doomnie).

I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.