Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

My maa sê die kerkmense moet báááie meer simpatie betoon met onse vaderjacob buitendien mag ’n mens nie ’n man skop terwyl hy lê nie, gûh! snork oom Cyril ek wens die comrades wil hom liewerster herroep soos die toyotas daar het BESLIS by hom ook iets vasgehaak. My maa sê toemaar toemaar oorlede ou jakob israel was ook maar lief vir sy lensiesop het hy dan nie TWAALF seuns gehad nie buitendien kan ’n mens nie appels met pere vergelyk nie DESTYDS was daar nog net slingervelle NOU is dit die era van die masjiengeweer.

Ag nou ja! sug oom Cyril die koerante moet dan maar asseblief opskud met al hulle onthullings dis een van die dae begrotingstyd en die volk moet betyds weet hoe­veel daar hierdie jaar opsy gesit gaan word vir kinderpartytjies. Gmf! skel my maa ek is nou hartlik moeg vir die kinders wat so speel VANDAT hulle hul amazing technicolour dreamcoats verruil het vir gucci & armani VANDAT skinkers en bakkers hulle lywe farao hou en VANDAT hulle die sewe vet jare wil nasionaliseer. My maa sê sy sal nie verbaas wees as hulle boonop potifar se kat in die donker knyp nie WAAR O WAAR is die kaap se son wat alles sien?

Ha! bulk oom Cyril deesdae kan ons mense nie meer so goed sien nie byvoorbeeld onse spioenbaas wat nie kon sien hoe die pakke en pakke bakpoeier in sy huis rondlê nie EN wat van daai krielkallie wat nie kan sien hoe liewe lulu ewe geduldig haar lippe vir pretoria aflek nie EN wat van ons kerk se voormanne wat nie kan sien dat klets óók kerktaal is nie.

Maar ons weet doomnie sal nooit soos die drie apies rondsit en hoop als gaan oorwaai nie & ons weet doomnie sien agter elke skelwoord die seer hart raak & ons weet doomnie verwag nie dat ander mense se woorde moet rym met elke jota en titteltjie waarin doomnie glo nie & bowenal weet ons doomnie lees ten minste die goeterse waaroor doomnie praat vóór doomnie daaroor praat.
Daarom bly ons dankbaar dat in hierdie dae van kinders en gerugte van kinders en van dinge wat uithaak en van ’n lankvergane luisterseisoen daar darem ’n 7de laan & ’n super 14 & ’n 23ste psalm is wat ons kan opgewonde maak hier in die agterste bank, hier tussen die mense wat hulle kop in skaamte laat sak, hier by my en my maa.

I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.