Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

My maa vra of doomnie weet of daar nog ’n toekoms vir afrikaans is as ou presidente dit wil red. Oom Cyril sê daar IS mense wat sê dis ons laaste hoop. ’n Hoop wát! skel my maa. Doomnie moet asseblief maar verskoon my maa is bitter kwaai oor al die hope wat beskaam en vergaan het en waarin almal nou so skrop. Doomnie weet mos die moeilikheid met sulke muwwe hope is die allerlei en diverse goggas wat daar uitkruip wanneer daar so vir ’n vale gekarring word. Oom Cyril sê dis nou maar die ding van mishope ELKEEN huisves ’n koning wat wil kraai al is daai koning ook maar kalerig.

Hopelik kry ons darem binnekort iemand om langs onse krieketkoning graeme op nuuskonferensies te sit noudat ou miekie moeg gesit is. Oom Cyril sê gelukkig weet ALMAL wie is die baas as die muis weg is. My maa sê sy hoop net nie daaimuis wil ook soveel geld soos ou jacob eskom hê as hy eers weg is nie. Gûh! snork oom Cyril ten minste het daaijacob ons almal geleer om nederig & minder kragdadig te wees terwyl daaimuis in al die jare nooit vir makhaya ’n stadiger bal geleer boul het nie.

Waar hoor jy dit? skrik my maa. Oom Cyril sê hy hét sy bronne. Toe skrik my maa éérs. Jy moet oppas wat jy sê! fluister sy jy wéét wat het met arme e.tv se mense gebeur omdat hulle nie wou klik nie hulle is amper tronk toe. Oom Cyril sê hy sal nooit lank in die tronk bly nie hy het mos hoërige bloeddruk buitendien sal onse president vir hom kwytskelding móét gee hy verteenwoordig ook ’n minderheidsgroep wat kan doen met ’n bietjie paaiery.

My maa sê ons moet net perspektief behou te midde van al die polisiepartytjies die taalgoggas die koninkrykies die kommissies die kraaiery die konkelry & die kaalkoppe wat tesame eet is daar mense wie se hopies besittings weggespoel het en ander wat onder hope begrawe lê DAAROM moet kerkmense maar fluisterend met die tale van mense en engele omgaan en hulle stemme eerder luid laat opklink oor die hoop wat in ons leef. My maa sê waar daar hoop is is daar lewe al is beide maar skraal gelukkig is daar weinig kans dat die groot wit hoop hier tussen ons skuilhou allermins in die agterste bank, beslis nie naby my en my maa nie.

I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.