Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

My maa sê sy hoop die nuwe jaar het vir doomnie beter begin as vir ou vaderjacob. Hy moes dan nou vir die vyfde keer trou! Sy sê sy het gehoop teen hierdie tyd het hy al sy les geleer met voorkinders hy behoort mos lááánkal te weet van die bytjies en die blommetjies. Oom Cyril sê hy dink dis daai wit tekkies se skuld dis dan nikes en hulle sê mos just do it! Jip! sug oom Cyril ’n stort help ook nie vir ALS nie.

My maa sê sy wonder wat sal help vir sadou se 2010 matrieks hulle gaan nou NOG minder by die skool mag wees. Hulle teachas gaan swaarkry om alles in te pas buiten die gewone go slow op Maandae en Vrydae die meetings op Woensdae en die normale strikes in Maart en Oktober is daar nog die bietjie geesvang in Mei vir die sokker daar is die maand en ’n half se vakansie in Junie en Julie EN die nodige nabetragtiging in Augustus. Eintlik bedoel sy babelaas maar doomnie moenie dat sy uitvind ek ken daai woord nie ek IS darem amper tien. Maar gelukkig is ek báááie ver van graad twaalf EN van mpumalanga af.
Oom Cyril sê hy vertrou onse president kry kans so tussen die bedrywige moedersdae en vadersdae deur om darem na sy doodsiek en ander shaiky vriende om te sien BUITENDIEN is hy beslis nou die baas van die plaas ook van vlakplaas. Siestog sê my maa NIEMAND is ook te diep weggebêre vir die gawe hand van onse vaderjacob nie.

Oom Cyril sê ons diepverlore land het AL hierdie gaafheid nodig vir die bangerige vreemde mense wat van ver af kom vir die sokker en dalk móét die tronke ook maar ’n bietjie leër gemaak word hier kom mos ’n KLOMP engelse.

Maar ons hoop dat doomnie se 2010 VOL gawes sal wees VERAL die gawe om te onderskei tussen die windjie wat die toppe van die hoë boom roer en die hondjies wat teen die stam hulle artritisbeentjies lig. Mag die ooms in die voorste bank ook in hierdie jaar ’n bietjie gawer met doomnie wees veral noudat hulle gehoor het hoe preek aflosdoomnies oor die kerstyd. Ons sal ons bes doen tussen al die afhanklikes die minder goeies die sukkelendes die kleingelowiges dié wat vir oulaas kom probeer en dié wat vinnig en koes-koes voorlopig kom sit het hier in die agterste bank, hier langs my en my maa.

I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.